Die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf het hierdie week ’n unieke stem verloor toe akteur, regisseur, aanbieder en komediant Soli Philander op 65-jarige ouderdom ná ’n stryd met kanker oorlede is.
Gebore as Silamour Philander in Elsiesrivier, het hy later die verhoog en televisie bestyg as “Solly” — ’n naam wat gou sinoniem geraak het met skerp humor, ’n vinnige tong en ’n talent om ’n gehoor binne sekondes in sy sak te sit. Sy loopbaan het begin by die legendariese The Space Theatre in Kaapstad, waar hy in uiteenlopende produksies gespeel het — van politieke satire tot toneelstukke.
Vir baie kykers sal Philander egter altyd die man wees wat Afrikaanse lirieke in ’n nasionale speletjie verander het as aanbieder van die ikoniese kykNET-program Liriekeraai. Hy het ook kykers laat dobbel met hul kennis op Vat ‘n Kans en later sy stempel op verskeie TV-reekse afgedruk — onder andere Arendsvlei, Devil’s Peak en Parlement Parlement.
Agter die kolligte laat hy ’n gesin agter: sy vier kinders, Caleb, Ethan, Danya en Kyla, asook ’n pleegdogter, Lauren, wat hy en sy voormalige vrou Toni ondersteun het deur haar matriekjaar.
Met sy skerp humor, warm menslikheid en ’n talent vir stories vertel het Philander bewys dat satire nie net laat lag nie — dit laat ook dink.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
