Dis Helgard se 60ste verjaarsdag – ‘n tyd om fees te vier; ‘n tyd vir die familie om byeen te kom by die bosveld herehuis waar Helgard en sy vrou Elsje nou woon. Dit is ‘n wêreld van ou geld, ou rituele en ou geheime.
Helgard se verjaarsdagpartytjie is ook die geleentheid vir die familie om weer kontak te maak en om die krake in die glas wat die familiefoto veilig hou, reg te maak. Want Linda, Christiaan se tweelingsuster, het ‘n paar maande vantevore selfmoord gepleeg. En Christiaan, as die oudste seun, moet die eerste heildronk instel …
Vasgevang in die familiewoning, word die gaste geskok deur onthullings wat die façade van hierdie Afrikaanse gesin se dubbele moraliteit vir goed vernietig.
Onder die bekwame hand van die bekroonde Heinrich Reisenhofer, wat oa die regie vir Joe Barber, Suip!, Cry the Beloved Country en Bacchus in die Boland waargeneem het, bring 14 van ons beste akteurs hierdie internasionale treffer direk van die West End (2004) en Broadway (2005) in Afrikaans na die KKNK. Gebasseer op die Dogme film (in Engels vrygestel as The Celebration), beskryf die Britse Sunday Times die produksie as ‘skokkend en diep treffend. Dit is ‘n opwindende moderne tragedie, wat op klassieke donkerte speel sonder om die lig prys te gee. Festen is iets om te vier.’
In 1995 kom ‘n groep Deense filmmakers, onder andere Lars von Trier en Thomas Vinterberg, bymekaar en stig Dogme 95, ‘n samevoeging enersdenkende filmentrepreneurs wat besluit om terug te keer na die basiese elemente van storievertelling en verfilming.
Hulle stel ‘n lys van 10 reëls op waaraan ‘n film moet voldoen om as ‘n Dogme 95 film te kwalifiseer. Dié reëls is:
1.Alle verfilming is plekgebonde. Rekwisiete en stelelemente mag nie ingebring word nie: die film word geskiet waar die nodige elemente voorkom.
2.Geen klankbaan of klankeffekte mag in post-produksie deel word van die film nie.
3.Die kameras word met die hand vasgehou en volg die aksie.
4.Die film word in volkleur geskiet. Spesiale beligting moet goedgekeur word. Sou die beskikbare natuurlike lig te min wees, mag een lamp aan die kamera vasgemaak word.
5.Optiese werk en kamerafilters mag nie gebruik word nie.
6.Geen oppervlakkige aksie mag plaasvind nie. Moord mag nie plaasvind nie en wapens mag nie gebruik word nie.
7.Die film gebeur hier en nou – geen verskuiwings van plek en tyd nie, dws geen terugflitse nie. Die storie word dus chronologies vertel.
8.Geen sogenaamde ‘genre’ films nie. (Byvoorbeeld wetenskapsfiksie, romantiese komedie ens.)
9.Die filmformaat bly 35 mm: alles word dus op film geskiet, nie digitaal nie.
10.Die regisseur kry geen krediet nie.
Die eerste film wat volgens dié reëls gemaak word, is Festen, wat in Engels as The Celebration vrygestel word. Die regisseur is Thomas Vinterberg en die film word in 1998 bekroon met die Prix de Jury by die Cannes Filmfees. Die effek wat die film op die gehore het, is orals dieselfde: vir minute na die einde van die film is hulle doodstil. Dis asof die emosionele geweld in die film hulle oorweldig. Die film raak vinnig ‘n kultustreffer.
In 2003 vertaal en verwerk Britse dramaturg David Eldridge die film vir teater. Hy fokus meer op die absurditeit van die situasie, asook die swart humor wat die werk deurspek. Die humor maak die uitlatings van die karakters, wat soms na melodrama nigh, net soveel meer van geloofbaar.
Op 18 Maart 2004 open die engelse verhoogproduksie in die Almeida Teater in Londen se West End en ‘n jaar of wat later open die produksie op Broadway.
In 2006 beding bekroonde skrywer/regisseur/vervaardiger Hennie van Greunen suksesvol die regte van die Dene vir die Afrikaanse vertaling van Festen.
Hoekom is dit belangrik dat hierdie produksie in Afrikaans gesien word?
Die rolverdeling van 14 akteurs wissel in ouderdom vanaf 12 tot 80, wat ruimte skep vir ‘n showcase van ons beste Afrikaanse akteurs.
Dit is van die mees uitdagende rolle wat in ‘n lang tyd in Afrikaans gesien is.
Ook sover dit keuse van regisseur aangaan, is dit uitdagend.
Die Afrikaanse teks resoneer met aspekte wat alle Afrikaanses sal herken: die patriargale familiestruktuur, die dooie stilte wat oor familietraumas hang, die pretensie van ‘n false normaliteit – al daai lekker dinge wat Afrikaners die voorste familiemoordernaars wêreldwyd maak.
Tegnies en stelgewys is die produksies redelik eenvoudig, in teenstelling met ander West End/Broadway vertonings. Die impak/sukses van die stuk rus op die spelers en die regisseur.
In April 2007 open die Afrikaanse produksie van Festen by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees met 14 top akteurs. Die produksie word beskou as die top-produksie van die 2007 fees en word vir vyf Kanna-toekennings benoem.
Gebasseer op die Dogme film en toneelstuk deur Thomas Vinterberg. Morgens Rukov en Bo Hansen, in Engels vertaal en verwerk vir die verhoog deur David Eldridge.
In Afrikaans vertaal deur Hennie van Greunen
Met Stian Bam, Johan Botha, Ilse Schmidt, Neil Sandilands, Lorraine Burger, Nina Swart, Marty Kintu, Pedro Kruger, Liandé Valentyn, Ruan Burger, Johann Nel, Chris Fourie, Deon Lotz en Anene Loots.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)