Die ses hoërskool-drama-groepe wat dit in die finale ronde van Kunstekaap en die Suidoosterfees se Hoërskole-dramafees (HSDF) gaan uitspook, is pas aangekondig. Dié dramafees word op 15 en 16 Oktober 2021 in die Kunstekaap se Arena aangebied.
Skole drama-groepe van regoor Suid-Afrika sal met die volgende produksies in dié gesogte jaarlikse kompetisie met mekaar meeding: Worcester se De la Bat-skool vir Dowes – ’n verwerking van Antony & Cleopatra; Houtbaai Internasionale Skool – Terminal Act; Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas – Neer daal die reën; Khayelitsha se Inkwezi Theatre Company, met leerders van verskeie hoërskole – Ivili (Die wiel); Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad – Om teen treine te skree; en die Pionierskool vir Gesiggestremdes in Worcester – Detensie.
Skole is genooi om vir die dramafees in te skryf met stukke wat die sosiale uitdagings wat tieners deesdae in die gesig staar, aanspreek. Die beoordelaars moes behoorlik kopkrap om die ses beste kandidate uit die 26 inskrywings aan te wys. Rafiek Mammon, een van die beoordelaars, verduidelik: “Al die skole het uit hul pad gegaan om ons te beïndruk, en dit was ’n uitdaging om net ses produksies te moet kies. Buiten die kwaliteit van die inskrywings, het ons ook gekyk na die verskeidenheid van temas wat in die stukke ontgin word.”
Temas soos die invloed van sosiale media op tieners se lewens, die belangrikheid van loopbaankeuses, hoe om versoekings te weerstaan, en die gevolge van magsmisbruik, is deur leerders verken. “Dit is bemoedigend om te sien watter temas ons jongmense interesseer,” sê Jana Hattingh, die Suidoosterfees se uitvoerende hoof. “Ons is beïndruk met die volwassenheid waarmee daar met ’n verskeidenheid temas omgegaan word, en uit die groot aantal inskrywings en die hoë gehalte daarvan is dit duidelik dat drama-aktiwiteite in skole met ywer voortgaan, ten spyte van Covid-19-inperkings en grendeltye.”
Op 15 en 16 Oktober sal finaliste meeding om toekennings vir toneelspel, produksies en tekste, en natuurlik ook vir die beste aanbieding. Die algehele wenners sal genooi word vir ’n speelvak vir hul produksie tydens die Suidoosterfees wat in April–Mei 2022 plaasvind.
Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap, sê: “Vanjaar se finaliste kon nie meer uiteenlopend in hul samestelling gewees het nie, en terselfdertyd is hulle ook die inklusiefste groep. Ek is opgewonde en kan nie wag om die finale aanbiedings op die verhoog te sien nie. Die HSDF lewer ’n waardevolle bydrae om hierdie tieners te help ontwikkel en om hul selfvertroue as jong volwassenes ’n hupstoot te gee.”
Kaartjies vir die HSDF kos R30 en kan by Computicket bespreek word.