G´n hierjy nie

Tart ´n Koggel Produksies bied aan ´n skreeusnaakse komedie uit die pen van Neels van Jaarsveld, G´n hierjy nie, wat open op 12 November 2003 in die Klein Libertas Teater in Stellenbosch. Dit is ´n satiriese blik op die psige van die Afrikaner man en huisgesin – meer spesifiek die rugbyondersteunende, minder-politieke aangedrewe, homofobiese Jan Rap en sy maat wat maar soos elke ander Saterdagmiddag op suburbian Vereeniging voor die TV sit en ´n biertjie met sy pêlle geniet.

Maar dis wanneer die drank en die grappies begin vloei dat Thinus (Jan Bester) en Karel (Neels van Jaarsveld) effens beheer verloor en per ongeluk begin oorgee aan hul diepste, onderdrukste emosies.met vermaaklike gevolge! Om dinge nog meer deurmekaar te krap is daar malkop Dolfie, met ´n obsessie oor Big Brother, en Karel se Indiër nooi, Shwarima (beide gespeel deur Lindie Stander), asook Cherise (Vicky Davis), Thinus se Gin&Tonic drinkende, shopping-behepte vrou.

Onder die bekwame regie van Gaerin Hauptfleish, wat in 2003 vele sukses behaal het met o.a. Man-Alleen, Testosmoroon en Bring vir Elvis Terug, is G´n Hierjy nie ´n grappige ondersoek na die identiteit van die wit, Afrikaner man binne sy huidige ekonomiese, politieke en maatskaplike omstandighede – sy vrese, sy invloede en sy donker onbewustelike word ontbloot. Hierdie hardebaard, tong-in-die-kies konfrontasie met die Afrikaanse kultuur sal kykers twee keer laat dink oor waarheen ons nou waarlik oppad is en waarheen ons vandaan kom, en of ons nog kom of ons maar net eintlik gaan.

Nuweling Jan Bester, maak sy buiging as die effens ruggraatlose, tog patriotiese Thinus, en Neels van Jaarsveld, 2002 Slurpie-wenner en bekende teaterakteur, is sy scheming vriend Karel. Gewilde aktrise, Lindie Stander, veral bekend vir haar rolle in Tip en Man-Alleen as Dolfie en 2002 Fleur du Cap wenner vir mees belowendste student, Vicky Davis, van As jy blind is. maak ook deel uit van hierdie maltrap bende.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar