God die Digter

“Daar is meer poësie in die sneeuvlokkie en toktokkie, as in die letterkunde, want die aarde is deur ʼn digter gemaak …”


Die skeppingsverhaal word oorvertel met poësie en toonsettings van die bekroonde TT Cloete, wat op 90-jarige ouderdom self, in ʼn intieme atmosfeer, sy gedigte voorlees.

In hierdie eiesoortige produksie word musiek by die woord gevoeg deur musikante Babette Viljoen en Olga Leonard. ʼn Viering van die digter se 90ste verjaarsdag!

TT Cloete is al onder andere bekroon met die Ingrid Jonkerprys vir poësie (1980), die Hofmeyrprys vir poësie (1981, 1986, 1989), die Louis Luytprys vir poësie (1983), die CNA-toekenning vir poësie (1986), die Hertzogprys vir poësie (1987, 1993), die Rapportryersprys vir poësie (1993) en die Rapportprys (1993). TT Cloete is ook die ontvanger van die Afrikaans Onbeperk vir Lewensbydrae in 2014 by vanjaar se KKNK.

Om vir TT Cloete, as een van die groot Afrikaanse digters, steeds aan’t skryf nog met ons te hê, is ʼn groot voorreg. Om hierdie digter op 90-jarige ouderdom op die verhoog te kry om sélf sy werke voor te lees, is ʼn groter voorreg!

Hierdie bekroonde digter se werk word deur jong talentvolle musikante, Olga Leonard
en Babette Viljoen, getoonset om te wys dat die digkuns selfs vir jongmense toeganklik is. Die regie word deur Lize Beekman behartig.

Hierdie eksklusiewe produksie word deur die ATKV ondersteun en mag nie deur die literêre fynproewer misgeloop word nie. ʼn CD met toonsettings van die digter se werk en voorlesings deur die digter is opgeneem ter viering van sy 90ste verjaarsdag en word by die vertonings verkoop.

God die digter is op 15 April om 20h30 by Die Boer Restaurant Teater in Durbanville. Kaartjies kos R100. Bespreek by 021 979 1911.

Daar is verskeie vertonings in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad.

TT Cloete
TT Cloete

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar