Groet die Grotoupa

Gedink jy’t die laaste gesien van die skreeusnaakse Grot-familie? Dink weer.

Die patriarg van die spulletjie het nog nie sy sê gesê nie. Bekende akteur, Ben Kruger is die Grotoupa in Lizz Meiring se splinternuwe produksie, Groet die Grotoupa.

Groet die Grotoupa is ‘n uit die maag uit lag, astrante en lekker aweregse blik op ouer mense. Veral ouer mans. Moenie dink jou dierbare oupa is so sedig soos wat hy voorkom nie. Tussen die brille en pille skuil ‘n sjarmante oerdier wat die moderne wêreld met ‘n skerp kyk en ‘n slimskerp tong beleef. Oupa verstaan miskien nie aldag hoe “It-Mix” en “Your Tubes” werk nie, maar hy’s nog lank nie oor die muur nie. Die Grotoupa is nie seniel nie. Partykeer kom dit vir sy kinders so oor, maar hy is beslis by sy volle bewussyn. Hy is net “skelm”, want hy is lief vir sy eie geselskap, sy eie “grot”, sy eie katoeters en sy eie ruimte. Ou mense lewe nog. Die kinders mag dalk dink hulle lewe nie meer nie, maar hulle het nog hulle behoeftes, hulle is nog lus om die kat in die donker te knyp en veral wil hulle hul onafhanklikheid behou. En dis wat ek op komiese wyse uitbeeld in Groet die Grotoupa. Oupas het nog baie “mens” oor in hulle.

Groet die Grotoupa is nie stand-up komedie nie, maar toneelkomedie in die ware sin van die woord. Al die elemente is daar, maar veral komedie, wat gehore gaan laat skaterlag. Maar van jonk tot oud sal kan identifiseer met die konflik, patos, snaaksigheid van hierdie Oupa. En selfs so bietjie in hul mou lag oor hul eie oupas.

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies, het nege jaar gelede besef dat Rob Becker se Defending the Caveman uitstekend in Afrikaans kan werk. Vir twee jaar het hy met Becker se prokureurs in Amerika onderhandel om die regte te bekom om Defending the Caveman in Afrikaans te doen. En uiteindelik het die Amerikaners ingestem en só is die Afrikaanse Groet die Grotman in Suid-Afrika gebore. Koos Kombuis het Defending the Caveman vertaal en verwerk in ‘n lekker Afrikaanse Grotman. Groet die Grotman hou tans die rekord vir ‘n Afrikaanse produksie wat nog die meeste in SA opgevoer is – meer as 700 keer. En elke keer uitverkoop! Daarna het Groet die Grotvrou deur Emma Peirson gevolg. Ook vertaal en verwerk deur Koos Kombuis. En vanjaar sien die eerste oorspronklike Afrikaanse Grotman-produksie die lig – Groet die Grotoupa met Lizz Meiring as skrywer en regisseur en Ben Kruger as die Grotoupa. Frans sê ook dat Lizz Meiring beslis die Grotoupa raak geskryf het. “Die teks is skreeusnaaks, jy gaan beslis jou eie oupa herken in die stuk en Ben Kruger is ‘n wonderlike Grotoupa. Beslis ‘n stuk waaroor die wêreld gaan praat en beslis ‘n Grotstuk wat ons hopelik kan uitvoer na die res van die wereld!”

Ben Kruger
Ben Kruger
Ben Kruger is die ideale Grotoupa. Hy het bekendheid verwerf met sy vertolking van Christo de Wet in Skooldae 1, 2 en 3. Hy was ook Kobus Schoeman in The Game, Sakkie Bezuidenhoudt in Zero Tolerance en meer onlangs Neef Gert in 7de Laan. VIr die verhoog was hy al in meer as 50 produksies te sien soos Jakes in Siener in die Suburbs, Horatio in Hamlet. Senior in Ek, Anna van Wyk en Don Juan in Don Juan onder die Boere.

Frans Swart van Lefra Produksies is die vervaardiger met Kosie Smit as stelontwerper.

Groet die Grotoupa is by die Carnival City se Mardi Gras Teater en speel tot 6 November. Besprekings kan gedoen word by Computicket (011) 340 8000 of by www.computicket.com Groepe meer as 10 kry ‘n lekker afslag. Skakel Zena by (011) 815 3000 of epos haar by info@lefa.com.

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

  1. Ek wil graag Groet die Grotoupa boek vir ‘n vertoning in Harrismith. Kan jy my dalk help met n webadres waar ek kan uitvind of ek n bespreking kan maak.

    Dankie!!

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar