Grotman help Mathys Roets

 

Hannes Muller gaan ‘n spesiale opvoering van Groet die Grotman doen om vir Mathys Roets fondse in te samel op Woensdagaand, 20 Mei by die Mardi Gras Teater, Carnival City. Besprekings kan gedoen word by Computicket 083 915 8000 of www.computicket.com Groepe meer as 10, skakel Cecile Kleyn by (011) 815 3000 of besoek www.grotman.com of www.lefra.co.za

Hannes Muller sê dat hy en Mathys goeie vriende is en baie kere saam golf gespeel het. “Ek en Frans Swart, Vervaardiger van Grotman, het vinnig koppe bymekaar gesit en dadelik besluit dat ons graag ‘n benefit konsert vir Mathys sal wil reël om te help met die groot mediese uitgawes wat Mathys nou sal moet delg. Dit is werklik die minste wat ons as kunstenaars vir mekaar kan doen en ons vra al die mense om hierdie spesiale konsert van Grotman te kom ondersteun.”

Frans Swart, bekende promoter en ook Besturende Direkteur van Lefra Produksies sê dit was vir hom ‘n baie groot skok toe Oos-Rand Stereo hom by die KKNK geskakel het om die nuus oor Mathys se ongeluk te vertel. “Ek en Mathys loop werklik so ‘n lang pad. Ek dink aan ‘n eerste konsert wat ons van hom as jong kunstenaar by die Grahamstadse Kunstefees gaan bywoon het. Hy was in ‘n horrible klein venuetjie en die show het eers na elf uur die aand begin. Dit was sy Leonard Cohen show. Daardie gehoor het hom so vasgehou en ondersteun en wou hom glad nie laat gaan nie. In tipiese Mathys styl het hy na die soveelste encore gesê dat al sy Leonard Cohen liedjies nou klaar is, maar hy ken Koos du Plessis liedjies. En toe doen hy vir ons sy hele Koos du Plessis show. Ons het konsert saam met Mathys gehou tot die son opgekom het en daar het ek hom sommer vir sy eerste teater show by die Springs Stadsteater bespreek. Ons het daarna wonderlike konserte saam gedoen en ons was ook bevoorreg dat Mathys by ons troue opgetree het,” sê Swart. “Mathys is ‘n vasbyter! As ek sien hoe hy vasgebyt het om dit uiteindelik as professionele sanger te maak, glo ek dat hy ook gaan vasbyt om volkome te herstel – al is dit as parapleeg. Ons gebede en gedagtes gaan uit na Mathys en sy familie en wens hulle almal baie sterkte toe.”

Mathys Roets is verlam ná sy motorfietsongeluk ’n week gelede naby Wepener in die Suid-Vrystaat, is onlangs bekend gemaak. Mev. Esmarie Cronjé, woordvoerder van die Life-Rosepark-hospitaal, het bevestig dat Roets nou ’n parapleeg is nadat sy T11- en T12-rugwerwels in die ongeluk voorverlede Maandag gebreek is. ’n Neurochirurg, dr. Daniël Hugo, het gister ná verskeie toetse familie, vriende en aanhangers se vrees bevestig. Cronjé het gesê Roets het gister tydens gesprekke goed gereageer. Hy is nog in die neuro-chirurgiese waakeenheid. Hy is stabiel, al is sy verdowing gestaak.

Die sanger Lucas Maree het in die Facebook-joernaal geskryf: “Om parapleeg te wees, beteken dat die verlamming in die onderlyf is. Die goeie nuus is dat hy nie die gebruik van sy arms, skouers, nek en bolyf verloor het nie. Hy mag dalk nie dadelik lus voel daarvoor nie, maar hy sál kitaar kan speel en hy sál kan sing.”

Mense wat geld wil inbetaal in die Mathys Roets Trust kan dit doen in die volgende bankrekening:

Beukes – Sikhala Prokureurs trustrekening
Nedbank
Rekeningnommer 1468 137 824
Takkode 146805

BAIE BELANGRIK:
Die verwysing “MATHYS ROETS” moet op alle deposito-strokies of elektroniese oorbetaling aangedui word.

Lewer kommentaar

Leave a Reply