Donkies bly maar snaakse wesens. As donkie se kind hardekwas trek, dan kan jy hom nie met stokke en blokke beweeg nie. Maar hulle het nog ander eienaardighede. Vat nou ‘n donkie en kruis hom met ‘n perd, dan begin jou moeilikheid. Kom ‘n donkie hings by ‘n perde merrie uit, dan kry jy ‘n muil. Sou jy nou die twee geslagte omkeer, dan heet die kind ‘n botterkoppie. Gebeur dit een uit ‘n duisend keer dat ‘n donkiehings ‘n vul kry by ‘n muilmerrie kry, dan sê die ou mense het jy ‘n Montefielie.
Babsie Müller het so ‘n Montefielie op Heidelberg gehad. As jy na sy kop kyk, het dit kompleet gelyk of hy ‘n bokbaardtjie gehad het. Wild was nie naastenby ‘n goeie beskrywing van die muil se kind nie. Jy moes maar gedurig in jou spore getrap het as die gevaarte in jou omgewing was. Hy het gebyt en jou gejaag soos ‘n leeu. Niemand van die Müllers, behalwe Babsie, het vir hom kans gesien nie.
Pa John het nie gedink dat hierdie 4de seun van hom reg wys is nie. Dit het Babsie nie afgeskrik nie. Hy was maar in St. 9 toe hy vir hom ‘n grênd perdekarretjie gebou het – die soort wat die dubbeld disselbome gehad het.
Daar was net een dier vir Babsie wat genoeg spoed gehad het om voor sy kar se wielie te span en dit was die Montefielie.
Dit was vir jou ‘n affêre gewees om donkie se kleinkind in te span – blitsvinnig of anders was jy in die moeilikheid. En as jy opklim dan moes jy jou litte roer anders het jy net die stof geproe van die karretjie, wat oor die horison verdwyn. Montefielie het net een pad geken, en dit is so vinnig as wat hy kan na pa John se groente tuin 2 kilometer van die huis af.
Dit was vakansie en boet Thysie het gedurende die skool vakansie van die Kaap af gekom. Op ‘n dag, terwyl Thysie en pa John so op die stoep sit en gesels oor die goeie ou dae, kry Babsie ‘n blink plan. “Ek gaan vir my ouboet laat proe, hoe voel dit om op ‘n perdekarretjie, wat deur ‘n montefielie getrek word, te ry,” dink hy by homself. Met groot gesukkel het hy die montefielie ingespan.
“Thys, kom saam met my na die groente tuin. Ek wil vir die montefielie gaan hawer sny,” nooi hy hom uit.
“Moenie laf wees nie, Thysie,” probeer pa John verhoed dat hy in die strik gaan trap, “jy kan nie op daardie kar klim nie. Babs en daardie muil se watsenaam is albei nie heeltemal reg hierbo nie”.
Thys het nie veel op pa John se vermaning ag geslaan nie.
“Goed Babs, ek gaan saam met jou”, het hy ingestem .
By die toe hek langs die huis, het die montefielie ingespan gestaan. Thys het vinnig opgespring terwyl Babs die vreemde spesie in bedwang gehou het.
Die sitplek op die karretjie was nie baie lank nie, maar breed genoeg dat twee mense weerskante kon sit. Die een moes vorentoe en die ander agtertoe kyk. Thys het agtertoe gekyk.
Babsie het die hek oopgemaak en soos blits op gespring. Hy het skaars op die sitplek geland of die karretjie het soos ‘n pyl uit ‘n boog weg getrek.
Leisels was daar nie om te bestuur nie, want aan die Montefielie kon jy dit nie kry nie. So, jy was aan die ‘genade’ oorgelaat. Gelukkig was daar nie ‘n verkeerskonstabel die dag op diens nie, anders sou hulle verseker ‘n spoedkaartjie vir oortreding van die dorp spoedgrens gekry het.
Vol op spoed naby Oom Stoffel Crous se plek is ‘n skerp draai. Toe Babsie besef dat die Montefielie gaan die draai te kort vat, het hy geweet hier kom moeilikheid! Hy klou met mening aan die sitplek van die karretjie se bankie vas. Boet Thys wis niks, hy sit rustig en agtertoe kyk terwyl die grondpad al hoe langer word. Die kar vat die draai. Reg op die hoek by Oom Stoffel se huis staan ‘n sementsluis paal, wat die water vanaf die water leivoor na die dammetjie verdeel. Naby die sementpaal staan ‘n drie meter hoë garingbos met dik dorings aan die blare. Die ghrieskop van die regterwiel, wat 9 duim vêr uitstaan, tref die paal dat dit bewe. Babsie suig nog vaster aan sy sitplek. Die kar swaai heen-en-weer. Babsie klou vir lewe en dood.
Gelukkig bly die karretjie op sy wiele. “Ons het dit gemaak!” sug Babsie van verligting. Hy kyk agtertoe om vir Thys te sê dat daar so amper groot moeilikheid was.
“My liewe hemel, Thys is weg! Waar is jy?” praat hy hardop met homself.
Terwyl Babsie nog wonder, wat van Thys geword het, bly die Montefielie hardloop. Hy kan nie die perdekar gestop kry nie. Daar is nie leisels om die dier in die bek te ruk nie.
Eers later, toe Babsie terug by die huis kom, sou hy ontdek hoe die vurk in die hef steek. Toe hy nader stap, sien hy vir pa John op die stoep met ‘n tangetjie in die hand. Versigtig trek hy knewels van dorings een vir een uit Thys se rooi gespikkelde lyf.
“Wat het gebeur?” vra Babsie tong in die kies.
“Toe ons die draai vat,” antwoord Thys verleë, “en die perdekarretjie begin rondslinger, het ek niks gehad om aan vas te hou nie. Ek het soos ‘n vrot vel boog deur die lug getrek en in Oom Stoffel se garingbos beland”. “Jy moes na my geluister het” vermaan pa John: “Maar die wat nie hoor nie, moet maar voel.”
bydrae: Joe Muller
