Helena van Bethesda

Tydens die jaarlikse Nieu-Bethesda fees (25 & 26 November 2005) vind die première van ‘n nuwe toneelstuk, deur Naòmi Morgan, oor die ‘outsider’ kunstenares, Helen Martins plaas. In die jare wat verloop het tussen twee toneelstukke oor hierdie besondere vrou (Athol Fugard se 1985-stuk, Road to Mecca, ook tot rolprent verfilm, en nou Helena van Bethesda), is baie navorsing gedoen oor Helen Martins, veral deur kunshistorici. Hierdie bevindinge, wat nuwe lig gewerp het op Helen se persoonlike lewe (haar familielede, maar ook die mans in haar lewe), het die stof geword vir Helena van Bethesda.

Anders as in Fugard se stuk wat binne ‘n paar uur afspeel, vertel Helena ‘n hele lewensverhaal en stel dus besondere eise aan die spelers en veral aan Helen, wie se ouderdom in die stuk wissel van tiener tot bejaarde. Die stuk word aangebied in ‘n reeks tonele wat beskou kan word as Helen se terugflitse terwyl sy op haar sterfbed lê. Die stuk begin op die noodlottige dag waarop sy bytsoda gedrink het. Johanna en Gertie, twee van die dorpsbewoners, lewer kommentaar oor Helen se lewe wat vervolgens kronologies voor die toeskouer afspeel.

Helen se pa is een van die sentrale karakters: dit is sy (waarskynlike) molestering wat haar toekomstige verhoudings met mans negatief sou beïnvloed en sou lei tot twee mislukte huwelike en ‘n lang (en gelukkige) verhouding met ‘n getroude man.

Helena van Bethesda (die titel is ontleen van Helena van Trojé) vertel veral die verhaal van die helende uitwerking van die kunste: op Helen self, maar ook op besoekers aan daardie magiese plek in die half-woestyn, die Uilhuis op Nieu-Bethesda. Soos so dikwels gebeur, het Helen Martins eintlik bekendheid verwerf na haar dood; in hierdie opsig is ‘n verhoog ‘n magiese plek, want ‘n goeie akteur kan ‘n ontslapene weer opwek uit die dood en dit is wat Hildegard Fobian regkry met haar interpretasie van hierdie veeleisende rol.

Tydens die Nieu-Bethesda-fees sal kerse en lampe saans in die Uilhuis aangesteek word om ‘n agterdoek te vorm.

Die regisseur is Daleen Krige, wie se regie van Cor, die ander Van Gogh teatergangers in Gent na die Tinnenpotteater laat stroom het. Krige is onder meer vryskut regisseur en was geruime tyd betrokke by die destydse Swaruk.

Helen Martins
Helen Martins
Naòmi Morgan is professor in Frans aan die Vrystaatse Universiteit waar sy literatuur- en kultuurstudies doseer. In 2001 was sy op die kortlys van Sanlam/Insig se Groot Romanwedstryd vir haar manuskrip Nog ´n kamermeisiedagboek.

Vir meer inligting kontak gerus die Uilhuis 049-8411733 of Naòmi Morgan 082 332 0861

Besoek ook die uilhuis se treffende webtuiste: www.owlhouse.co.za

bydrae: Naòmi Morgan

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar