Herman van Veen Foundation

Die Herman van Veen Foundation fokus veral op die regte van die kind. Sy doelstelling is onder andere om kleinskaalse projekte in ontwikkelende lande en Nederland te ondersteun en om kinders die geleentheid te gun om hul talente, kreatiwiteit en menswaardigheid te ontwikkel.

In Suid-Afrika het die Foundation reeds ‘n belangrike rol gespeel. In 1999 het Herman van Veen die Colombine Maternity Clinic in Elandsdoorn, ‘n nedersetting buite Groblersdal (Mpumalanga), geopen. Die oprigting hiervan is moontlik gemaak deur die Foundation, in samewerking met die Colombine Stichting, een van Van Veen se stigtings.

Die Colombine Maternity Clinic vorm deel van die Ndlovu Medical Clinic wat 160 000 mense uit die omgewing dien. Swanger vrouens en baba’s van die gebied het nou vir die eerste keer toegang tot mediese versorging in hul onmiddellike omgewing. Baba’s kan in ‘n mediese inrigting gebore word waar daar onmiddellik na komplikasies omgesien kan word. Die kliniek bied ook behandeling aan vir swanger vroue wat HIV+ is (Prevention of Mother to Child Transmission of HIV). Hierdie behandeling vertraag die ontwikkeling van die VIGS virus en vergroot die kanse dat die moeder natuurlik geboorte kan skenk. Alle moontlike stappe word gedoen om te verhoed dat baba’s met die HIV virus aangesteek word (bv. borsvoeding word met bottelvoeding vervang). Baba’s ontvang vir 4 weke na geboorte soortgelyke behandeling as hul moeders. Tot op hede is hierdie die enigste landelike kliniek waar die behandeling gedoen word. Die behandeling word gratis aangebied, wat ook uitsonderlik is. Tot dusver is daar ontsettend baie sukses behaal met hierdie program.

Die dryfkragte agter die kliniek en verdere projekte is ‘n Nederlandse dokter, Hugo Tempelman en sy vrou, Liesje, ‘n ervare verpleegster. Deur hul toedoen het die gemeenskap nie net ‘n mediese fasiliteit gekry nie, maar verdere projekte het daartoe gelei dat die gemeenskap nou meer selfstandig kan funksioneer. Daar is reeds 14 bakkerye opgerig waar bakkers opgelei word en mense hul daaglikse brood kan koop, ‘n tuinmaakprojek bemagtig inwoners om hul eie groente te kweek, speel- en sportfasiliteite is aangelê en ‘n kleuterskool is vir die gemeenskap opgerig. Werkskepping is een van die mees positiewe uitvloeisels van al hierdie projekte.

Die Herman van Veen Foundation was pas weer betrokke by ‘n projek in Suid-Afrika, “Friends of Loskop”, wat op 6 November 2004 bekend gestel is. Kinders uit histories benadeelde gemeenskappe rondom die Loskopdam Natuurreservaat het nouliks die kans om die park te besoek. Eerstens is daar vir hulle geen vervoer na die park nie en tweedens is dit vir hulle onmoontlik om die toegangsgeld te betaal. Die projek maak dit moontlik vir kinders in die nabyheid van die Loskopdam Natuurreservaat om dié reservaat te besoek. Kinders word met busse daarheen vervoer en verken saam met ‘n veldwagter die park. Hulle ontvang onderrig oor die fauna en flora, die belangrikheid van bewaring en die katastrofiese gevolge van wildroof.

Van Veen se volgende droom vir die Foundation in Suid-Afrika is om ‘n teater in Soweto te help oprig. Hy verduidelik: “In Soweto is daar ‘n tronk maar geen teater nie. As jy ‘n viool in die hand het, het jy nie tyd om ‘n rewolwer ook vas te hou nie.”

Tans word vennote vir hierdie projek gesoek, bestuurstrukture georganiseer en ‘n gepaste ligging vir die oprigting van die teater geïdentifiseer.

Vir verdere inligting verwys na www.hermanvanveen.com

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar