Mari Borstlap

“In wese was ek nog altyd besig met toneel, dit is in my bloed. Toneel is my prioriteit.”

Albert Maritz, organiseerder van Skoletoneel, sê in 2003, “Skoletoneel in Suid-Afrika vul ‘n reuse leemte in ons kultuurskat, nie net weens die oorvloed van werk wat gelewer word nie, maar ook omdat die standaard so hoog is en dit gereeld gunstig gemeet kan word teenoor professionele werk wat in die groot teaters te siene is.” Maritz doen ‘n beroep op die publiek en teaterlui om die rykoes te ondersteun, met werk uit plaaslike bodem soos dié van Jackie Nagtegaal, Hennie van Greunen en Mari Borstlap.

Borstlap was die skrywer/regisseur/hoofrol in Vlerk, wat met goud weggestap het op die toneelfeeste daardie jaar. In dié onderhoud maak Haydee nie net kennis met ‘n entoesiastiese skolier van die verhoog nie, maar ‘n bekende Borstlap afstammeling.

Mari Borstlap
Mari Borstlap

Mari is tans eerstejaar aan die Universiteit van Stellenbosch. In 2003, tydens haar matriekjaar, skryf sy die teks vir Vlerk, ‘n eerste poging tot ‘n volwaardige dramateks. Die stuk vaar in daardie jaar baie goed by al die tienertoneelfeeste en Borstlap wen die prys vir beste nuutgeskrewe teks. “As regisseur het ek daardie jaar besef toneel is my roeping. Die stuk (een van agt) was ook deel van Albert Maritz se prestige aand en sedertdien is ons steeds in verbinding. Ek hoef jou seker nie te sê hoe geesdriftig en entoesiasties Albert is nie, veral ten opsigte van tienertoneel en jong ontluikende akteurs. Hy is ‘n rolmodel vir jong spelers en woon gereeld ons vertonings by, soos nou met Die Ander Helfte.”

“Vlerk was baie spesiaal en min het ek daardie aand geweet dis die laaste vertoning met die oorspronklike cast, ‘n magic groep mense. Dit was ‘n goeie show en ek raak bewoë as ek aan daaraan dink, want een van die akteurs en die klankman wat ook ‘n baie goeie vriend van my was, is na daardie optrede in ‘n motorongeluk dood oppad na die ATKV tienertoneel se finale rondte in Bloemfontein. Albert se prestige aand in die Durbanville Ouditorium was die regte venue vir so ‘n finale.”

Na matriek is Mari, soos soveel ander jong Suid-Afrikaners, vort na Londen maar keer na vyf maande terug na die Kaap waar sy en Ignatius Nothnagel, die ander helfte van Kokanje, koppe bymekaar sit vir die stig van ‘n volwaardige produksiehuis. Beide studeer tans BA Tale en Kultuur op Stellenbosch.

“Ig, soos almal hom ken, is die stil, behind the scenes man, maar terselfdetyd ‘n belowende akteur. Op skool het hy vir jare in die tegniese span vir toneel gewerk, en in matriek tydens die produksie van Vlerk sy akteur skoene aangetrek. Ig het ‘n fyn aanvoeling vir die tegniese sy van teater en is my regterhand. As mede stigter is hy die ou wat kalm bly as ek raadop is. Hy hoop om sielkunde sy loopbaan te maak.”

Borstlap se nuwe drama Die Ander Helfte was verlede week by die Klein Libertas te sien.

“Die Ander Helfte kyk na die beginsel dat alles wat een was en dan twee word, altyd weer een wil wees. Dit vertel die verhaal van ‘n tweeling wat geskei word met geboorte en hulle magiese pad na hereniging. Ons het besluit om die eerste Kokanje Produksie ook ‘n tienertoneelstuk te maak, omdat ek weet hoe die genre werk en omdat ons graag tienertoneel wil bevorder en voortdurend opsoek is na nuwe talent. Dis gerieflik, want ons kombineer spelers uit verskillende skole en sodoende is daar nooit ‘n tekort aan akteurs nie. Skoliere van onder meer die Hoërskool Parel Vallei en Paul Roos Gimnasium staan in die rolverdeling. Onthou gerus dié name Fourie Oosthuizen (Art), Neil van Heerden (Ben), Michelle Nothnagel (Vera), Linka Prosch (Boodskapper, Skadu 2), Adriaan Steyn (Besoeker, Skadu 3) en Chantal Roux as Mev Nommer-Asseblief en Skadu 1.”

Jaarliks lees mens van nuwe dramas, nuwe produksiehuise (sommige vlietend van aard, ander meer standhoudend) en soms word hulle produksies opgeneem in kunstefees programme waar hulle groot blootstelling geniet. Kokanje Productions is ‘n bloedjong produksiehuis. Ek wou by Borstlap weet waarop speel die naam?

“Kokanje is die luilekkerland (amper soos neverland van Peter Pan). Dit is ‘n plek waar logika jou verraai en verbeelding jou betower. Ek het hierop besluit want my doel is om toneelstukke aan te bied wat die sintuie oorweldig en gehore laat snak na hulle asems. Ook voel ek dit som die magiese elemente van teater baie goed op. Kokanje dien as ‘n tuig waardeur ons ons liefde en passie vir die teater kan uitleef. Dit het ten doel om onder meer hoë gehalte drama op die planke te bring. Ons fokus is op konstante ondersoek en verbetering deur middel van hierdie ongelooflike kunsvorm.”

“Die droom om ‘n produksiehuis op die been te bring, broei al geruime tyd, maar ek moes wag vir die regte tyd. Ons is onafhanklik en die betrokkenes sal waarskynlik van produksie tot produksie verander.”

As afstammeling van Petrus Gert Borstlap, oftewel die beroemde Afrikaanse toneelreus, André Huguenet, het Borstlap groot waardering en ontsag vir haar beroemde voorsaat. Huguenet en Mari se oupa, Hans Borstlap was neefs. Die einste Huguenet het in 1931 weggebreek van Paul de Groot se rondreisende toneelgeselskap om sy eie tot stand te bring. Die rol van Ampie, gegrond op die bekende werk van Jochem van Bruggen is maar een van die rolle waarmee ons Huguenet vereenselwig. Hy het self die taak om die boek tot teks oor te skakel, behartig – ‘n verwerking waarmee Van Bruggen glo nie baie geneë was nie. Daar was baie eerstes vir Huguenet. Hy was die eerste Suid-Afrikaanse akteur om op uitnodiging as gasspeler in ‘n buitelandse produksie (met die titel Hassan) op te tree en Hamlet (met hom in die naamrol), was die eerste Afrikaanse Shakespeare produksie. Huguenet is in 1961 dood weens wanhoop en vereensaming.

Waar staan tienertoneel vandag? Word jong skoliere van toneel nog bekendgestel aan die ou meesters van die (Afrikaanse) verhoog soos Huguenet, Maritz en Cobus Roussouw om maar enkeles te noem?

“Ek glo dat die jeug, betrokke by tienertoneel, sonder twyfel van hierdie groot meesters kennis neem en wil leer. Teater en spesifiek tienertoneel ondergaan ‘n evolusie en daar word baie ge-eksperimenteer met nuwe style en tegnieke.”

Hoe word ‘n stuk gekies of geskryf vir tienertoneel, watter reëls geld?

“Moeilike vraag want ek het nog nooit iets geskryf en gedink nou kan net ‘n sekere groep dit verstaan of aanpak nie. Ek dink my styl as regisseur is die bepalende faktor. Wanneer jy met tieners werk, moet jy jou taalgebruik aanpas. Vandag se tieners is so oopkop en ingelig dat die dae van skoolkonserte verby is. Tieners beleef rou en eerlike emosies, wat gebruik moet word om temas aan te spreek deur middel van teater. Ek is trots om deel te wees van die proses. ‘n Beoordeelaar by die naweek se fees het gesê Die Ander Helfte is te naby aan kuns, die stuk laat hom onseker voel omdat hy nie die oorsprong van sy emosies kan bepaal nie. Dit is in die kol met wat ek probeer doen en dit is om tienertoneel te vat tot by daai edge waar jy dieper kyk as jou verwagtinge. Ons lewe in ‘n komplekse en raaiselagtige tyd. Dis vir my vanselfsprekend dat teater hierdie kwessies moet aanraak en verken. Ek sou sê los die reëls, gebruik jou diskresie en moenie huiwer om te waag nie.”

Die Klein Libertas Teater in Stellenbosch poog, by gebrek aan ‘n streekraad om te help met toneelontwikkeling, om die leemte te vul deur nuwe toneelskrywers, akteurs en vervaardigers die geleentheid te bied om hulle werk bekend te stel. Die teater streef daarna om die gemeenskap van Stellenbosch en omgewing te dien met die beste opvoerbare kuns en kultuurbedrywighede. Hulle wil veral die jeug en jong belowende akteurs en teaterpraktisyns die geleentheid bied om betrokke te raak en kontak te maak met die breë teaterwêreld.

Maar wat van die groot dilemma, befondsing?

“Haydee, befondsing is regtig ‘n groot dilemma. Daar is min maatskappy of organisasies wat bereid is om borg te staan of geld te belê in ‘n relatief onbekende akteur of dramaturg. Ek vertrou in die voorsienigheid. My passie sal vir eers my stokperdjie moet bly totdat owerhede en gesaghebbendes anders kyk na die kunsvorm.”

Borstlap dig graag, twee van haar gedigte is onlangs opgeneem in Penseel. Musiek en film lê haar ook na aan die hart en sy wil na afloop van haar graad filmskool toe. Intussen bedink sy planne vir Kokanje se tweede produksie vroeg aanstaande jaar.

Dit is duidelik dat die twee Borstlappe baie dinge in gemeen het. Een daarvan is hulle liefde vir woorde of dan dialoog en die wete dat die woord – gesproke of geskrewe – ‘n impak kan maak op ‘n gehoor.

Besoek die Klein Libertas Teater www.kleinlibertasteater.co.za of word ‘n Klein Libertas Teaterondersteuner vir slegs R50 per jaar en geniet die volgende voordele:
v R5 afslag op alle KLT se eie produksies
v R5 afslag op geselekteerde nie-KLT produksies
v R10 afslag op alle PULP-filmvertonings
v Afslag op bespreking van die teaterterras

bydrae: Haydee Hollander

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar