Hierdie kabaret gaan oor ‘n vrou van die skema’s wat ‘n battle het om te fight – vir pension en welfare en coupons by Shoprite. Tussen linte sigaretrook en plastiek blomme deur vertel Sandra en Rita die stories van die lewe in die skema’s.
In hierdie kabaret word die gehoor deel van die voorstoepdrama, lag en huil ons vir die anderkant van die chickenfencing. Van oorkant se moleste tot langsaan se skinder, af in die straat tot by die kafee en terug voer die karakters ons op die reis van minderbevoorregtes in Suid-Afrika vandag.
Hierdie kabaret deur Marteni Burger, krap die blink stukkies snaaks uit die dowwe gruis onder die voete van mense wat die swaarkrypad ken.
Marika Reinke en Yolande Rabe vertolk die rolle van die twee susters wat wys dat die vrou van die skema’s “nooit nie sal lê, sy hou haar kragte want eendag is eendag, sal sy die glory-life hê.” Met begeleiding deur Lukas Heinen sing die twee tot die bure moan.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)