Kunstekaap, in samewerking met die Suidoosterfees, bring Xolisa Ngubelanga se drama It’s My Baby tot 1 Oktober op die planke. Dié produksie is deel van vanjaar se langverwagte New Voices-program.

Xolisa Ngubelanga is ’n skrywer, jeugontwikkeling fasiliteerder, teatermaker en aktivis van die Oos-Kaap. Hy is die stigter van Jo Kinda – People, ’n organisasie wat teater inspan om leeromgewings te rehabiliteer. Xolisa het al ’n paar toneelstukke geskryf, onder andere Flamebook (bekroon met die Standard Bank Standing Ovation-toekenning in 2017) en Dinner with Bantu,wat in 2019 by die National Black Theatre Festival in die VSA voorgelees is. Hy het ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns by Rhodes-universiteit behaal en is tans ’n lektor by AFDA in Gqeberha.

It’s My Baby het vroeër vanjaar met groot lof tydens die Suidoosterfees se NATi Jong Sterre-aanbiedings gedebuteer. Die teks en die produksie is ontwikkel deur die NATi Jong Sterre-projek, ’n sinergie-inisiatief van die Suidoosterfees, die Jakes Gerwel Stigting, NATi en Artscape.

Die drama handel oor omstrede onderwerpe soos die grondkwessie en plaasaanvalle. Die handeling word vervleg met ’n boeiende persoonlike perspektief op die lot van kinders wat sonder ’n pa grootword. Die karakters bevind hulle op ’n plaas in Suid-Afrika. Na die moord op haar man, sukkel mevrou Hollard om dinge aan die gang te hou. Geregtigheid seëvier wanneer Sipho tronk toe gestuur word vir die moord, maar ’n wending volg wanneer mevrou Hollard se seun Robert daarop aandring dat Jacob, Sipho se vader wat ook op die plaas werk, onskuldig in die pad gesteek word. Wantroue heers op die werf terwyl Robert se wens eerbiedig word. Dinge bereik breekpunt wanneer Precious, wat in die plaashuis werk, met ’n baba van kraamverlof terugkeer met die nuus dat Sipho vrygelaat is.

“Die opvoering was baie gewild toe dit vroeër vanjaar by die Suidoosterfees gedebuteer het,” sê Jana Hattingh, die fees se uitvoerende hoof. “Daarom het ons gedink dat dit die perfekte keuse vir New Voices sou wees. Xolisa is een van die opwindendste nuwe stemme in die bedryf.”

Kaartjies vir It’s My Baby kos R50 en kan bespreek word by Artscape Dial-a-Seat (021 421 7839) of by Computicket.

Stephanie Hough, Sonwabo Mpandle, Zikhona Jacobs en Sizwe Msuthu

Lewer kommentaar

Leave a Reply