Kandidate vir 2005 Sanlam-teaterprys bekend

Die drama het begin! Vier toneeltekste wat deur die Tswane Universiteit van Tegnologie en die universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat (twee) ingeskryf is, sal dit by die KKNK uitspook om die Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater vir 2005.

Dié Sanlam-prys is daarop gemik om die standaard van Afrikaanse teater te stimuleer, die skryf van professionele dramatekste aan te moedig en opkomende teaterkunstenaars die geleentheid te bied om hul talente te ontwikkel. Die prysgeld van altesame R260 000 wat per jaar beskikbaar gestel word, maak die Sanlam-prys die grootste in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater vir die ontwikkeling van Afrikaanse teaterproduksies.

Volgens die sameroeper van die beoordelaars, die bekende dramaturg Pieter Fourie, is nege tekste, twee meer as vir vanjaar se kompetisie, vir keuring voorgelê. Hy meen die beste vier tekste “is in ‘n klas van hul eie” en dat die standaard in die algemeen hoër as vanjaar s’n is.

Die medebeoordelaars is Margot Luyt, Anthony Wilson, Jeanne Goosen en Hennie van Greunen.

Die Tswane-studente gaan Skimmespel, deur Wim Vorster en die Maties Erwe, deur Adriaan Meyer op die planke bring. Die Vrystaters het die uitdaging aanvaar om twee stukke met verskillende regisseurs op te voer: Chris Vorster se Aasvoëls en Zollie van Nico Luwes.

Die vier wentekste sal nou ingestudeer en met borgskappe van R25 000 elk by die KKNK van 25 Maart tot 2 April 2005 op Oudtshoorn opgevoer word. By dié fees sal die algehele wenner en ook die beste nuwe akteur, regisseur en dramaturg dan aangewys word.

Vir die wendramadepartement wag ‘n stewige R100 000 op voorwaarde dat die wenproduksie by twee ander kunstefeeste opgevoer moet word. Die individuele pryse is elkeen R20 000 werd.

Die eerste Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater is vroeër vanjaar deur US ingepalm met My plaas se naam is Vergenoeg deur George Weideman.

Intussen kan die land se toneelskrywers wat vir 2006 se Sanlam-teaterprys in aanmerking wil kom, maar solank aan die werk spring. Oorspronklike Afrikaanse dramatekste (ongeag dialek of streektaal) kan aan enige van die dramadepartemente by universiteite en technikons in Suid-Afrika vir oorweging voorgelê word.

Lewer kommentaar

Leave a Reply