Kunstekaap, die spilpunt van die uitvoerende kunste in die Wes-Kaap, gaan ‘n nuwe toegewyde Klantedienslyn vir teatergangers instel om voorstelle vir ‘n verbeterde teaterervaring te hanteer.
Die diensspan by die Kunstekaap-loket op die marmerfoyer van die Operahuis sal teatergangers die geleentheid bied om enige goeie of slegte ervaring onder die Kunstekaapbestuur se aandag te bring.
“Dié nuwe diens word ingestel om saam te val met die bekendstelling van die feestelike vermaakprogram wat in byna alle smake voorsien vir die komende vakansieseisoen,” sê Michael Maas, bestuurshoof van Kunstekaap.
Oor die afgelope boekjaar het meer as 100 000 mense sowat 600 verskillende verhoogproduksies in die Kunstekaap Skouburg se vier teaters bygewoon, terwyl duisende ander die sentrum besoek het om aan feeste deel te neem of konferensies by te woon.
“Ons het ‘n behoefte geïdentifiseer om ‘n Klantedienslyn vir die duisende besoekers in te stel. Teatergangers kan die personeel van die Klantedienslyn tyden kantoorure persoonlik ontmoet of by Tel: (021) 410-9838 skakel. Na-ure kan hulle ‘n nota in die spesiaal toegewyde dienslynhouer by die loket plaas of ‘n e-pos stuur aan careline@artscape.co.za,” sê hy.
“Ons wil verseker dat teatergangers elke besoek aan Kunstekaap geniet deur na hulle te luister. Sou iemand nie gelukkig wees met enige aspek van die diens by Kunstekaap nie, of dit nou groot of klein is, kan hulle dit onder die klantedienslyn se aandag bring waarna ons die nodige regstellende stappe sal neem,” sê hy.
Kunstekaap loods ook ‘n verdere inisiatief om sy databasis op te dateer. “Ons bereik duisende mense met die bestaande basis, maar dit moet herontwerp word en die jongste tegnologie gebruik.
“Die Klantedienslynpersoneel sal die databasis voortdurend opdateer en nuwe teatergangers registreer soos hulle kontak maak,” sê Maas.
