Om die pragtige Klein Karoo-landskap as verhoog te gebruik bied die Absa KKNK vanjaar interessante produksies en werkswinkels in die omgewing om Oudtshoorn aan.
Die De Hoop Kerkgebou wat vanjaar ’n eeu oud is, speel gasheer vir baie besonderse musikale ervarings, o.a. Musiek uit die Suide met sopraan Zanne Stapelberg, kitaarspeler James Grace en multi-instrumentalis Minette du Toit-Pierce. Feesgangers wat Zanne en James vantevore in Canciones Españoles gesien en gehoor het, sal weet dat dit ’n hoogtepunt gaan wees. Ook by De Hoop sal die Pro Cantu Jeugkoor onder leiding van Leon Stark die Suid-Afrikaanse première van Estoniese komponis Arvo Pärt se Johannes-Passie (Passio) teen Paasnaweek opvoer. Dié jeugkoor was in 2008 die wenners van die Musica Sacra-kategorie by die Wêreldkoorspele in Oostenryk.
Feesgangers kan uitsien na ’n besonderse ervaring met die teenwoordigheid van verskeie Nederlanders in en om Oudtshoorn voor en tydens die fees.
Met die samewerking van Europa se vooraanstaande fees van omgewingspesifieke kuns, Tershellings Oerol, word Onder Constructie op Die Meent oorkant St Jude’s Anglikaanse kerk in Baron van Reedestraat aangebied waarin vier akteurs binne die bestek van 50 minute 11 ander personasies aanneem, die hele tyd ’n groot aantal stukkende kombuistoestelle soos wasmasjiene herbou en herrangskik tot groot vermaak van die gehoor.

Die einste Nederlanders bring Salto Vitale na Die Meent. Hierdie gebeurtenis vind plaas tussen gronddvlak en 17 meter bokant die grond wanneer iemand stadig opgehys en met water, vuur en lig omring word. Hy moet die keuse maak of hy moet spring of nie … Die onsekerheid wat ons maar almal beleef, word hiermee op ’n baie treffende manier verbeeld.
Ararat in Die Volstruiskamp by Moooi, die uitsonderlike galery net buite Oudtshoorn, vertel die verhaal van Noag se ark wat op Ararat tot stilstand gekom het en Noag wat, soos ons almal maar, soms wonder of die Here ons altyd hoor. Hier in Oudtshoorn word die verhaal op ons eie omgewing van toepassing gemaak in ’n verlate volstruiskamp met die Swartberge as agtergrond. Dis buitelugteater op sy beste.
Op die plaas Boesmanskop van Tienie Bekker 50 km tussen Oudtshoorn en Calitzdorp word ’n spesiale konsert ter herdenking van die befaamde Suid-Afrikaanse komponis Kevin Volans se sestigste verjaarsdag aangebied. Hanneke Benade, verlede jaar se suksesvolste vroulike kunstenaar en die wenner van die Kanna vir visuele kuns,tree as kurator op vir die uitstalling Landskappe wat skilderye van Walter Meyer en Albert Redelinghuys, twee van Suid-Afrika se bekendste landskapskilders, vertoon.
By Die Kruising duskant Boesmanskop bied Roger Young ’n fotografiese werksessie aan oor mense, landskappe en detail in die Klein Karoo, asook ’n uitstalling met kunstenaars soos bekende beeldhouers Etienne de Kok en CP Wessels; keramiekunstenaar Lorette Espi en silwersmid Theresa Jo.
ArtKaroo bied werksessies by Kruisrivier aan waar mense in die buitelug kan skilder onder die raadgewende oë van ervare kunstenaars. Ingesluit by die prys is besoeke aan die uitstallings daar.
Op die Mosselbaaipad by Moerasrivier kan mense Susqya Williams se uitsalling Stone Circle sien en terselfdertyd ook vir Jan Willem Wiener ontmoet om meer te leer oor labirinte, die oorsprong en betekenis daarvan, en om sy uitsonderlike Klein Karoo-labirint te stap.
Kaartjies kan by Shoprite/Checkers en Computicket bespreek word. Feesgidse is teen R15 by die Absa KKNK-kantoor, PNA, Postnet, die Toerismeburo en Pick ’n Pay beskikbaar. Besoek gerus die webwerf by www.absakknk.co.za vir die jongste inligting. Die kantoor se nommer is 044 203 8600.