Kragtige dansstuk verbind SA en Rusland

‘n Kragtige kontemporêre dansopvoering gaan vir die eerste keer in Suid-Afrika die historiese gebeure van twee wyd uiteenlopende lande byeentrek.


Die stuk getiteld, Darling, by die Kunstekaap Teater in Kaapstad op 2 September styg uit bo die politieke onrus wat Suid-Afrika en Belarus in die voormalige Sowjet Unie in die tagtigerjare geteister het.

Die opvoering is ‘n unieke samewerking tussen twee voorste kontemporêre dansers, Moya Michael van Suid-Afrika en Igor Shyshko van Belarus. Hulle het in die 1990s as studente by die Performing Arts Research and Training Studios (P.A.R.T.S.) in België ontmoet.

Netelige kwessies soos rassisme, homofobie en politieke onrus in hul onderskeie lande het hulle aangespoor om Darling te skep. Dit is ‘n aangrypende werk wat gehore aanspoor om eensgesindheid in vesrkeidenheid te vind.

Die stuk raak aan historiese gebeure van die twee lande soos die Tsjernobil kernramp in Rusland in 1986, terwyl Suid-Afrika in dié jaar ‘n noodtoestand uitbrei om die hele land te dek. Binne vyf jaar is die die ANC ontban, terwyl die Sowjet-Unie in die noordelike halfrond formeel ontbind is.

Daar is geen storielyn in die uur-lange danswerk nie, dit bestaan eerder uit verskeie lae met uiteenlopende kulturele verwysings wat wissel van volksdanse tot toyi-toyi.

Die bepalende elemente van Darling lê in die hegte verhouding tussen Moya en Igor met ‘n musiek- en klankskepping, ryk aan beeldspraak, deur die talentvolle Sloveense komponis, Gasper Piano.

Die Johannesburg-gebore Moya verwerf ‘n nasionale diploma in kontemporêre en Afrika-dans by die Tshwane Universiteit in Pretoria. Sy ontvang ‘n beurs om in België onder Anne Teresa de Keersmaeker te studeer en toer internasionaal met die Akram Khan-geselskap vir vyf jaar.

In 2003 ontvang sy die Standard Bank Jong Kunstenaarstoekenning vir dans by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad. Sedertdien skep sy haar eie dansstukke met opdragte van teaters en feeste in Londen, Bangalore, Shanghai, Brussels en Johannesburg. Sy werk tans saam met die Kongolese choreograaf, Faustin Linyekula wie se eerste werk in Oktober 2014 opgevoer word.

Igor is in Gomel, Belarus, gebore. Vanaf 1993 studeer hy aan die die Belarussiese Universiteit van Kultuur in Minsk, met kontemporêre- en volksdans as hoofvakke.

Hy sit sy studies in 1997 voort by P.A.R.T.S. in België. In 2010 word hy deel van die span wat Minutes Opportunes vir die Michèle Noiret-geselskap geskep het en hy toer steeds met die werk. Igor tree binnekort saam met Arco Renz op in sy jongste skepping Dust.

Darling word deur Zelda Produksies aangebied, wat onlangs medevervaardiger van die hoogs suksesvolle vertonings van die Geneefse Ballet by Kunstekaap was. Vir Darling werk hulle saam met Jazzart wat vervoer vir hulle gemeenskapsuitreik-program verskaf om die Kunstekaap-vertoning by te woon.

Die uitvoering begin om 19:30. Kaartjies kos R100 terwyl studente slegs R60 betaal. Bespreek by Kunstekaap Bel-‘n-Sitplek 021 421 7695, Computicket 0861 915 8000, Shoprite en Checkers-winkels, of aanlyn by Computicket.com.

In die aanloop tot die Kaapstad-vertoning, sal Moya ‘n vyf-dae-lange dansslypskool vir Jazzart-dansers van 25 tot 29 Augustus by Jazzart se Studio aanbied. Vir meer inligting, kontak Zelda Produksies by info@zeldaproductions.co.za.

Die Suid-Afrikaanse toer van Darling is moontlik gemaak danksy die Vlaamse-afvaardiging in Suid-Afrika, Danssambreel Johannesburg, Crowd finansiers van KissKissBankBank, seventyseven vzw, Jazzart en Zelda Produksies, Kaapstad.

• Darling word op 6 en 7 September 2014 by die Danssambreelfees in Johannesburg opgevoer.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar