Laaste brief uit Amerika

Essais en bekroonde uitsaaier, Alistair Cooke, is op 30 Maart 2004 in die ouderdom van 95 jaar oorlede. Cooke het onlangs sy uittrede aangekondig as gevolg van swak gesondheid.

In 1934 sluit Cooke hom by die BBC aan as film resensent en drie jaar later as verslaggewer. Letter from America, die langste praatprogram vir radio is vir die eerste keer in 1946 uitgesaai toe hy gevra is om ´n weeklikse oorsig van lewe in die Verenigde State te gee, en vir die volgende sowat 60 jaar (58 in Brittanje) is die briewe regstreeks voorgehou aan ongeveer 34 miljoen luisteraars wêreldwyd. Dit was die einde van die Tweede Wêreldoorlog en Cooke wou die Britse luisteraars iets vertel van die lewe in Amerika.

As gevolg van die program se reuse sukses en populêre aanhang, het Cooke bekendheid verwerf in Amerika “as the man who explains all things British”, en in Brittanje “as the man who explains all things American”.

Die weeklikse briewe (wat hy elke week op ´n tikmasjien in sy woonstel met ´n uitsig oor New York se Central Park getik het) tel oor die 2,800 waarvan hy slegs drie uitsendings misgeloop het.

Nadat Cooke groot geeste in die letterkunde oor die etergolwe hoor praat het, het hy ´n nuwe professie vir die radio geskep en daarna verwys as “writing for talking – putting it on the page in the syntactical break-up and normal confusion that is normal talk”. Elke onderwerp is ´n storie, of dit oor politieke kwessies of ekonomie handel en jou luisteraar het die reg om weg te draai as dit vervelig en eentonig is, aldus Cooke. Hy was die gasheer van Masterpiece Theatre in the United States vir 22 jaar, verteller van onder meer The March of Time (1938-1939), Sorrowful Jones (1948), skrywer/verteller van America: A Personal History of the U.S. (1972-1973) en integer van ongeveer 12 boeke insluitend Alistair Cooke´s America (1973) wat meer as 800,000 hardeband kopieë verkoop het.

Alfred Cooke is in 1908 in Salford, Noord Engeland gebore maar verhuis na Amerika waar hy die laaste jare van sy lewe saam met sy tweede vrou deurbring. Hy behaal ´n honneursgraad in Engels aan die Universiteit van Cambridge en vertrek in 1932 na Amerika om sy studies aan Yale voort te sit. Hierdie eerste, kort besoek aan Amerika het Cooke se hele uitkyk op die lewe verander. “That trip was an absolute eye-opener for me, even then, even in the Depression, there was a tremendous energy and vitality to America. The landscape and the people were far more gripping and dramatic than anything I had ever seen. It truly changed me. From then on my interest in the theater began to wane, and I began to take up what I felt was the real drama going on – namely, America itself.”

Terug in Engeland, verander hy sy naam na Alistair en sluit in 1934 aan by die BBC as verslaggewer tot sy onlangse aftrede in Maart vanjaar. Hy onthou hoe ´n groot gees in die bedryf hom eendag gemaan het om nie té populêr te raak nie, want dit is die vinnigste manier om jou werk te verloor.

Van sy toekennings sluit in vier Emmy´s, drie George Foster Peabody toekennings, ´n Bafta, ´n Sony Radio Toekenning vir sy lang ononderbroke diens aan die uitsaaiwese en die Broadcasting Press Guild´s Radio Broadcaster of the Year toekenning. Hy is ook tot ridder geslaan, ´n besondere eer aangesien hy in 1941 ´n Amerikaanse burger geword het.

Huldeblyke stroom steeds wêreldwyd in van bewonderaars en kollegas in die radio- en televisiebedryf. Lesers van www.roekeloos.co.za kan gerus ook van hulle laat hoor. Hier is ´n paar plaaslike bewonderaasbriewe.

Mev. Laura Stevens, Port Alfred skryf “I was a big fan of Cooke’s extraordinary essays. Cooke has enormous insight and understanding of the world.”

Magda Pienaar, “Hy was een van die grootste uitsaaiers van alle tye. Ons sal nog eendag die verlies ervaar, veral met kommersiële radio.”

Danielle Olwage, “Cooke het ´n standaard gestel in radio. Sy briewe het Amerika na jou woonkamer gebring, soos dit goeie radio betaam.”

William Farish, Amerika se Ambassadeur in Londen skryf “For many Americans he will always be associated with the best of Britain. He had movie star good looks, a poised and effortless manner, a first-class mind, and – most flatteringly – a sincere and abiding interest in all things American.”

skrywer: Haydee Hollander

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar