deur Frans Swart

Worsie se ma is dood. Marga van Rooy is nie meer met ons nie. Hoe kan ons in die vermaaklikheidsbedryf ons voorstel sonder ‘n Marga van Rooy? Sy was ‘n wonderlike aktrise en net so ‘n wonderlike mens en vriend. Marga was veral bekend vir haar komiese rolle, maar sy was net so ewe tuis op die verhoog in meer ernstige rolle.

Ek en Marga het op verskeie projekte saamgewerk. Meer onlangs het sy vir my gespeel in die klugte, My boetie se boetie se boetie se baba as die kwaai maatskaplike werker, Mev. Poggenpoel. Verlede jaar was sy te sien in Daa’ gaat die bruid as Ouma Daphne.

Marga se komiese tydsberekening was ongelooflik goed en in die kol. As regisseur het sy dit vir my so maklik gemaak, want as ek vir haar ‘n nota gegee het, het sy die aand gaan werk sodat sy dit perfek die volgende dag vir my kon speel soos ek dit gesien het.

Marga was seker een van die mees professionele aktrises waarmee ek in my loopbaan gewerk het … altyd op haar stoeltjie op standby, by watter deur sy ook al moes inkom. ‘n Mens het nooit na Marga gesoek nie … sy was altyd op die verhoog … reg om te perform.

Sy het mildelik van haar kennis gegee wat ek as regisseur en ander spelers met vrug kon gebruik. Vir my was die lekkerste as Marga haar eerste entrance op die verhoog maak, het sy altyd luide applous van die gehoor ontvang. So asof gehore altyd wou sê: “Ons verwelkom jou Marga!” Ons was baie bevoorreg dat Marga nog vir ons in Daa’ gaat die bruid tot laat verlede jaar kon optree voor sy siek geword het. Dit is eintlik wonderlik dat sy amper tot op die einde kon doen waarvoor sy so lief was … toneelspeel!

Marga was wyd belese en ek gaan beslis ons geselsies oor Van Wyk Louw, Brecht, Chekhov en Molière baie mis. Marga was ook bekend daarvoor dat sy regisseurs en spelers uitdaag om jou tot groter hoogtes aan te spoor. Daardie kameraadskap gaan ek beslis mis. Wat ek miskien die meeste gaan mis, is Marga se wonderlike vriendskap en menswees. Die mooi hoede en haar lewensvreugde.

By Lefra het ons ‘n tradisie van ‘n tequilatjie en drankie na openingsaand. Alhoewel Marga al diep in haar sewentigs was, is sy altyd saam met my en die spelers vir (soos sy dit genoem het) ‘n night cap. Totaal deel van die span en haar heerlike uitbundige laggie as iets snaaks op die verhoog gebeur het.

Marga van Rooy … jy laat ‘n wonderlike nalatenskap na. Ons almal by Lefra gaan jou mis, maar deur jou spel gaan jy bly voortleef. Ons salueer jou!

Marga van Rooy
Marga van Rooy

Lewer kommentaar

Leave a Reply