Meer as tweeduisend leerders op Kunstekaap verhoog

Meer as tweeduisend leerders vanoor die Wes-Kaap is ‘n unieke kans gegun om tydens die Kunstekaap Skolekunstefees in ‘n professionele teateromgewing op te tree.

Vanjaar het meer as 80 skole vanoor die hele provinsie gratis deelgeneem aan die twee en ‘n half-week-lange fees wat sy hoogtepunt bereik op 30 Augustus met ‘n gala bereik waar die 15 beste skole genooi is om op te tree.

Kunstekaap is die enigste staatsgesubsidieerde uitvoerende kunste-instelling in die land wat ‘n provinsiale skolekunstefees aanbied.

Oor die afgelope sewe jaar het die gebeurtenis in so ‘n mate gegroei dat dit vandag die grootste jaarlikse ontwikkelingsprojek van Kunstekaap is. Vanjaar se fees word in samewerking met Die Burger – Jip aangebied.

“Hierdie is ‘n opvoedkundige kunste-toonvenster vir leerders van alle ouderdomme om hulle uiteenlopende talente in verskillende genres soos klassieke ballet, kooropvoerings, orkes-ensembles, eietydse dans, hip hop, kwaito en Afrika-musiek te toon.

“Hoewel die fees nie ‘n kompetisie is nie, gee galakonsert erkenning aan uitvoerende kunste uitmuntendheid van die voorste 15 skole,” sê Marlene le Roux, direkteur van Kunstekaap se Gehore-ontwikkeling en Kunstedepartement.

“Die fees bied aan opvoeders en leerders ‘n gulde geleentheid om op ‘n professionele verhoog op te tree en die agter-die-skerms werking van ‘n professionele teater te ervaar. Dit help om belangstelling te kweek en leerders aan die menigte geleenthede in die uitvoerende kunste bloot te stel,” sê Kunstekaap bestuurshoof Michael Maas.

Hoewel die meeste van die skole in Kaapse metropool gesetel is, het skole van so ver as Beaufort West in die noorde, George in die Suid-Kaap, Bredasdorp in die Overberg, Worcester in die Breederiviervallei, en verskeie skole uit die Boland gekom. Vanjaar het twee skole vir gestremde leerders vir die eerste keer aan die fees deelgeneem.

HCI (waarby Golden Arrow-Stigting ingelyf) en Metrorail het metropolitaanse skole met vervoer gehelp. Kunstekaap oorweeg dit om landelike skole wat na die galakonsert genooi word met reiskostes by te staan.

Die skole wat vir die galakonsert gekies is, word op 27 Augustus aangekondig.

As deel van die opbou tot die 2010 Fifa Sokker Wêreldbeker, sal die Doel vir Almal-plakkaat en poësie Skolekompetisie amptelik deur LUR Whitey Jacobs by die galakonsert bekend gestel word. Die kompetisie streef om die belang van dissipline, respek, spangees en regverdigheid aan te moedig.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar