Prins Dirkie en die Seerower Kat is net so energiek en kindervriendelik soos sy voorgangers, Prins Dirkie en die Teekoppie Koning, Prinses Mientjie en die Ruimtemaniak en Prins Thomas en die Willewragtag. Dit is propvol snaaksighede en lekker musiek, en die storie en karakters is modern en relevant vir vandag se klein prinsies en prinsessies!
Prins Dirkie en sy tomboy-maatjie, Anabel, is terug vir ‘n nuwe avontuur! Prins Dirkie droom nogsteeds daarvan om ‘n ridder te wees, maar sy swaardjie is van hout, en vir gevaarlike gedoentes is hy maar skrikkerig! Hierdie keer oorreed Anabel hom om Seerower-Seerower te speel. Wanneer ‘n regte egte Seerower Kat vir Prins Dirkie vang, moet hy en die maatjies vinnig aan ‘n plan dink! Maar watse snaakse geluide kom uit die donker bos? En hoekom kyk die Seerower Kat elke nou en dan oor sy skouer?
Met uitstekende spel en regie onder leiding van Adele van de Venter, en oulike nuwe liedjies deur Jani Coetzee, word hierdie verruklike kinderstorie lewendig in ‘n mengelmoes van verbeelding en beweging. ‘n Moet vir alle klein rakkertjies wat ook graag op allerhande verbeeldingsreise gaan en droom daarvan om groot en dapper te wees!
Anna Emm Productions is bekend vir hulle uitgebreide reeks oorspronklike kinderstories op CD, wat tans landswyd by musiekwinkels beskikbaar is. As aanvulling tot hierdie luisterstories, word hierdie reeks kinderteaterproduksies nou een na die ander vrygestel. Hierdie teaterstukke, waarvan die eerste een reeds ‘n reuse sukses was, kom almal ook uit die pen van Anna Emm self en sluit aan by karaktertjies en stories op die CD’s.
Anna Emm is vertroud en gemaklik as skrywer vir die kindermark en haar verbeeldingryke stories is ewe gewild onder kinders en grootmense. Haar karakters is oorspronklik en kindervriendelik. Hierdie teaterstukke is, net soos die stories op die CDs, ‘n lekker bederf vir almal wat nog jonk van gees is!
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
