Vanjaar kan jy ook verseker wees van ‘n porsie Shakespeare by die Aardklop Drama feesmaal. Die Storm, die Afrikaanse weergawe van The Tempest gaan beslis die verbeelding prikkel. Met Antoinette Kellermann as Prospero, ‘n ou dromer goëlaar met slinkse plannetjies, en Jana Cilliers as die onvergeetlike Ariel, ‘n fee wat tussen hemel en aarde sweef en uiteindelik ingekatrol word. Die Storm is vanjaar met ‘n Kanna as beste produksie bekroon. Marthinus Basson se regie verleen luister hieraan.
‘n Swart komedie wat die gehoor laat rol van die lag, maar terselfdertyd ‘n ernstige boodskap huis toe bring is Suip, van Oscar Petersen en Heinrich Reisenhofer. Dit vertel die verhaal van ‘n bergiegesin wat in die strate van Kaapstad leef. Die verhaal skop af met straatteater waarmee die gesin probeer geld insamel vir hulle volgende dop. En iewers hou ‘n wegloop tiener alles dop. Dit vertel die kultuur en geskiedenis van alkoholmisbruik in die strate van Kaapstad. Die stuk kombineer dialoog, dans en liedjies met fisieke teater.
Die drama Festen is gebaseer op die 1995 Deense rolprent Festen, wat Die Viering in Afrikaans beteken. Dis ‘n viering van ‘n ander aard wanneer ‘n ryk Afrikaanse gesin op die familieplaas byeenkom om die pa se 60ste verjaardag te vier. Die oudste seun onthul geheime wat almal tot stilstand ruk en wat al die verhoudings opeens verander en beïnvloed. Groot name soos Johan Botha, Johann Nel, Nina Swart, Neil Sandilands en Pedro Kruger is deel van die groep van 14 spelers. Heinrich Rosenhofer het ‘n Kanna vir beste regie hiervoor ontvang. Festen is deur Hennie van Greunen uit Engels vertaal. ‘n Stukkie teater van genesing.
Van die juwele wat te sien sal wees by vanjaar se Aardklop Kunstefees is die bekroonde Joseph en Mary Affair van Malan Steyn en Ilse Oppelt. Dis die verhaal van drie fabriekswerkers wat onder leiding van Speedy Cupido kliphard aan die repeteer is vir die fabriek se jaareindfunksie. Speedy dring aan op ‘n Kersspel, maar Munier is ‘n Moslem. Hoe nou gemaak? Die stuk handel oor medemenslikheid in ‘n eg Suid-Afrikaanse omgewing en gaan jou nie net laat lag nie, maar beslis ook laat huil. Met Euodia Samson, Charlton-Lee George en Brendon Daniels. Regie deur Marthinus Basson.
Wat is ‘n fees sonder ‘n heerlike klug. Charles Fourie het die klassieke klug, Noises off in Afrikaans as Lawwe geluide vertaal. ‘n Span akteurs vertolk deur o.a. Tobie Cronjé, Martelize Kolver en Nicole Holm repeteer aan ‘n klug en die regisseur, Francois Toerien word al hoe meer raadop oor sy spelers se onbeholpenheid. In die eerste bedryf gaan jy lekker lag, die tweede bedryf gaan jou laat skaterlag en in die derde bedryf gaan jy behoorlik krul van die lag. Die regie word behartig deur Chris Weare.
Wolke is vernuwende teater wat gebaseer is op die boek van Harry Kalmer, Briewe aan Wolke. Dit is ‘n opvolg op die suksesvolle Briewe aan ‘n rooi dak. Dit vertel die verhaal van Kobus, ‘n uitgewekene wat een aand wanneer Camilla, sy Amerikaanse kind, lê en slaap uitstap en terugkeer Suid-Afrika toe. Dan skryf hy briewe vir Camilla en oor kontinente heen moet ‘n pa en dogter mekaar weer vind. Kontemporêr met temas soos dwelms en rock ‘n roll. Met Marcelle van Heerden en die opwindende nuweling Jessica Haines. Die regie word behartig deur Henrietta Gryffenberg.
Binnelanders is ‘n familievriendelike komedie/klug, geskryf deur Lizz Meiring. Ses van die Binnelandkarakters, Matrone, Kitte, Toeks, Pippa, Elize en Malan beland toevallig een naweek by die Merry Mountain Inn hotel in die Magaliesberg. Maar daar is ses ander karakters ook (gespeel deur dieselfde akteurs) wat bydra tot al die verwarring en vergissings. In die stuk lewer Lizz subtiele kommentaar oor lag en humor. Gerrit Schoonhoven behartig die regie. Met Fatima Abdool, Jürgen Hellberg, Nadia Velvekens, Franci Swanepoel en Paul du Toit.
Kaburu is ‘n opwindende nuwe drama geskryf deur Deon Opperman, die Hertzogpryswenner vir drama van 2006. Die plaaslike bevolking in Kenia het die groep Afrikaanse setlaars wat na die Anglo Boereoorlog daarheen getrek het Kaburu genoem – ‘n groep waarmee jy nie moet sukkel nie. Kaburu is ‘n eietydse drama oor die vasberadenheid en durf wat nog steeds in die Kaburu se harte klop. Die rolbesetting spog met ervare spelers: Franz Marx, Hanlie Opperman, Deon Coetzee, Wilna Snyman, Sandra Prinsloo en Herman Hardick. Deon Opperman behartig ook die regie.
bydrae: Alita Vorster