The Tempest, in Afrikaans vertaal as Die Storm, word beskou as een van die hoogtepunte in die William Shakespeare-oeuvre.
Dié stuk was sy laaste volledige teks en is vir die eerste keer in 1611 opgevoer. Dit is steeds ‘n gewilde keuse op verhoë wêreldwyd vanweë ‘n sjarmante kombinasie van komedie, romanse, tragedie en ‘n magiese kwaliteit wat tot ‘n groot gehoor spreek.
Van al Shakespeare se werk is Die Storm waarskynlik die mees teatrale: Eksotiese, bomenslike en soms selfs onsigbare karakters vertel die verhaal van Prospero, ‘n wyse ou towenaar, sy pragtige en onderwêreldse dogter, ‘n dapper jong prins en ‘n wrede, geslepe broer. Prospero, die regmatige hertog van Milaan, en sy dogter, Miranda, word afgeset deur sy broer, Antonio, met hulp van die koning van Napels, Alonso. Prospero en Miranda kom te lande op ‘n eksotiese eiland en deur sy towerkragte, beheer Prospero die bomenslike bewoners van die eiland vir twaalf jaar. Prospero gebruik sy towermagte om ‘n storm ter see te laat ontstaan waarin onder andere sy broer, die koning en sy seun, Ferdinand, op sy eiland uitspoel ná hul skip in die storm vergaan het. Met behulp van die luggees Ariel bewerk Prospero inkeer by Alonso en orkestreer hy die huwelik van Miranda en Ferdinand.
Die Storm is ‘n poëtiese en allegoriese sprokie waarin ou onregte uitgewis word en waarna die minnaars lank en gelukkig lewe. Hoewel die verhaalgegewe skraps voorkom, is Die Storm ‘n teatrale meesterstuk wat krities na die verhouding tussen natuur en beskawing, en by implikasie ook die kuns, kyk. Prospero toon sterk outobiografiese ooreenkomste met Shakespeare self. Dié stuk is ‘n waardige slot tot die werk van die grootste dramaturg van alle tye.
Die storm spog met ‘n gedugte rolverdeling en ‘n onkonvensionele aanslag. Antoinette Kellermann speel die rol van Prospero en Jana Cilliers is Ariel. Die regie word behartig deur Marthinus Basson – die mees bekroonde regisseur in die geskiedenis van die Absa KKNK. Hy het reeds vier Kanna-toekennings vir sy werk verower.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
