Lefra Produksies se splinternuwe eenmanvertoning, My pa, met bekende akteur, Cobus Venter, debuteer by vanjaar se Aardklop in Potchefstroom.

Hierdie splinternuwe en oorspronklike teks is deur Frans Swart geskryf. Swart hanteer ook die regie. Die produksie het ‘n ouerbegeleiding vir taal. My pa speel op Woensdag, 4 Oktober 2017 om 09:00 en op Donderdag, 5 Oktober 2017 om 15:00. Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000 of by www.computicket.com.

Gert Struwig, gespeel deur Venter, is ‘n rêrige-êrige Bloubul. Hy is beslis nie ‘n metroman nie. Naas die Bybel, is rugby sy grootste aanwyser. Hy beplan sy braais, sy gesin, sy partytjies en sy gesin se aktiwiteite rondom rugby. Sy lewe draai om rugby. Sy helde is rugbyspelers. Sy bestaan is rugby. ‘n Eg tipiese Suid-Afrikaanse man. Maar dan gebeur die lewe en Gert se bestaan word dramaties verander met sy eie vraag: “Is ek my seun se held?”

Frans Swart, skrywer en regisseur van My pa sê dat alle Pa’s hulle seuns se helde wil wees. “Maar ons Pa’s doen nie altyd die regte goed op die regte tyd nie. Ons probeer ook partykeer te hard. En dan twyfel ons ook in ons vermoë om ‘n goeie pa vir ons seuns te wees. Dit voel amper die meeste van die tyd asof ons voete van klei het. ‘n Seun wil maar net ‘n Pa hê wat omgee. Soos ons almal weet, is daar geen handleiding om kinders … veral seuns … groot te maak nie. Dis die essensie van My pa. Gert wil die ideale pa vir sy seuntjie wees en hy smag daarna om sy seuntjie se held te wees. Ongelukkig stel die seuntjie meer belang in Playstation, sy nuwe selfoon en sy maats as in sy pa se strewe om die ideale pa te wees.”

Swart sê dat hy ‘n robuuste spel soos rugby gebruik as metafoor te gebruik om die vraag te beantwoord: “Is ek my seuntjie se held?” sê Swart. “Die stuk het aanvanklik sy ontstaan gehad as Groet die Grotheld, maar ons het baie vinnig besef dat hierdie stuk op sy eie bene moet staan en nie in die Grot-mileu aangebied word nie. Ek het weer gaan werk aan die teks en is nou tevrede dat dit aangebied word as My pa.”

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply