Na meer as 15 jaar in die vermaaklikheidsbedryf, het Edrien Erasmus genoeg moed bymekaar geskraap om haar eie hart as kunstenaar, vrou, mens, sanger en grappie verteller met gehore te deel in haar eenvrouvertonging, Ontbloot.
Edrien het groot geword in Thabazimbi. Daar het sy tussen yster klip en rooigrond vir haarself verhogies en speel-speel teaters gebou. Haar klein tyd drome is aangehits deur twee onderwyseresse, Marie du Toit en die eienares van Kunstegrot op die dorp en passievolle teater liefhebber, Rita Volschenk. Van gediggies soos “Verdwynskuimroom” en “Salomo”, tot haar eerste rol op die verhoog as die kat in Op pad na Bremen, het Rita haar afgerig en help droom! Edrien glo dat jy jou drome moet nastreef, selfs al voel dit soms of dit nie kan werk nie.
Edrien is bekend vir haar rolle in verskeie musiekblyspele, onder andere Droomkind, Liefling, Ons vir jou en Lied van my hart. Haar films sluit in Vir die Voëls, Kampterein en vroeër in 2017 het sy die geleentheid gehad om te werk aan die verfilming van Raaiselkind. Sy vertolk ook tans die rol van Barta van Rooyen in Lefra se verhoog produksie Fiela se kind, wat landswyd toer en was ook te sien in Lefra se trefferklug, Daa gaat die bruid.
“Om ‘n kunstenaar of selfs net kreatiewe mens te wees, dwing jou soms om verskillende karakters in jou hart en kop toe te laat. Die groot uitdaging is, om tussen al die verskillende karakters, emosies, rondtoer, skryf, sing, skep, kreatief bly en duisend ander veranderlikes, steeds jouself te bly. Eerlik, ontbloot … net Edrien.”
“Ek belowe nie dat jy aan die einde van Ontbloot enigsins my as mens sal verstaan nie, ek belowe net ‘n kykie in die wêreld wat ek meestal my eie noem. Ons gaan sing en lag en huil en daarna bietjie wyn drink”
Ontbloot is ‘n eenvrou-vertoning wat bestaan uit tientalle oorspronklike liedjies, verskeie oorspronklike komiese stukke asook ‘n kabaretnommer of twee met Edrien Erasmus, klavier begeleiding deur Mariëtte Galjaard en regie word behartig deur Cobus Venter.
Ontbloot speel by die Lefra Stadsaal @ Aardklop op Saterdag, 7 Oktober 2017 om 21:00. Kaartjies kan bespreek word by Computicket 0861 915 8000 of by www.computicket.com.