Altesaam 21 jong klassieke musici tussen die ouderdomme van 14 en 19 is gekeur om aan die 33ste Nasionale Jeugmusiekkompetisie van 10 tot 14 Oktober by die Hugo Lambrechts-Ouditorium in Parow, Kaapstad deel te neem.

Met ‘n gemiddelde ouderdom van 16,7-jaar, is die mededingers gekies ná oudisies wat regoor die land gehou is. Die gekeurde deelnemers kom van Gauteng, Oos-Kaap, Vrystaat, die Wes-Kaap en Namibië.

Hulle sal in een van vier kategorieë, naamlik klavier, stryk-, blaas- en ander instrumente (slagwerk, harp, marimba, ens.) wedywer. Daar is vier inskrywings vir blaasinstrumente, ses vir strykinstrumente, tien pianiste en een slagwerker.

Bo en behalwe die meer as R145 000 in prysgeld, goue-, silwer- en en brons medaljes sal die algehele wenner ook genooi word om in uitvoerings by Overstrand Kunste in Hermanus, sowel as die Darling Musiekervaring op te tree. Wes-Kaapse finaliste sal ook deur die Hugo Lambrechts Trust genooi word om in ‘n konsert by die Hugo Lambrechts-Ouditorium te speel.

“Net om vir die wedstryd te kwalifiseer is klaar ‘n prestasie vir elke deelnemer. Vanjaar is meer ‘n as derde van die mededingers van voorheen benadeelde groepe,” sê Michael Maas, stigter en voorsitter van die Nasionale Jeugmusiekstigting (NJMS).

Die twee jongste mededingers, 14-jaar oud, is van Gauteng, en speel onderskeidelik viool en klavier. Daar is 11 musici van die Wes-Kaap, ses van Gauteng, twee van die Vrystaat en een elk van die Oos-Kaap en Namibië.

Die Nasionale Jeugmusiek-kompetisie, aangebied deur die NJMS, bied ‘n platform vir klassieke musici wat te jonk is om vir die UNISA Internasionale Musiek- en die ATKV Muziq kompetisies te kwalifiseer; of te oud is vir die SAMRO Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie.

Oor die afgelope drie dekades het die wedstryd voorste musici soos Pieter Schoeman (leier van die Londense Filharmoniese Orkes), Jeffrey Armstrong (voormalige leier van die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes), Sakhile Humbane (student aan die SA Musiek-kollege, Universiteit van Kaapstad), Eben Wagenstroom (studeer tans in Cincinnati, VSA) en Myles Roberts (student in Milaan, Italië en wat as gaskunstenaar by vanjaar se finaliste galakonsert sal optree) opgelewer.

Ander gerekende musici wat vanuit die kompetisie voortvloei is Nina Schumann, Petronel Malan en Thapelo Masita om maar ‘n paar te noem.

“Dié is die derde grootste musiekkompetisie vir klassieke musici in Suid-Afrika. Die algehele wenner loop vanjaar weg met R30 000 kontant en die enigste goue medalje in die kompetisie.

“Dit is die enigste musiekkompetisie in die land waar die ses finaliste die voorreg geniet om saam met die KFO op te tree,” sê Maas.

Al die mededingers neem aan die eerste twee rondes deel waarna ‘n maksimum van 12 spelers na die derde ronde deurdring. Vanuit hulle geledere word ses finaliste gekies om met mekaar mee te ding onder begeleiding van die KFO by ‘n galakonsert met resident-dirigent van die KFO, Brandon Philips, op die podium.

Die beoordelaarspaneel bestaan uit Farida Bacharova (strykinstrumente), Francois du Toit (klavier), John Hinch en Melane Hofmeyr-Burger (blaasinstrumente), Michael Maas (voorsitter), Kutlwane Masote (strykinstrumente), Pauline Nossel (klavier) en Vaughan Petersen (hoof, Frank Pietersen Musieksentrum, Paarl).

“As deel van die NJMS se visie om jeugmusici te identifiseer, bloot te stel en te ontwikkel, is ‘n skadujurie, bestaande uit voormalige mededingers, ‘n onlosmaaklike deel van die kompetisie. Met die skadujurie verseker die stigting dat ‘n nuwe generasie beoordelaars gevestig word,” sê Maas.

Die skadujurie kan nie die span beoordelaars beïnvloed nie. Geborg deur UNISA, sal hulle die mees belowende semi-finalis wat nie na die eindronde deurdring nie, aanwys. Vanjaar sal Dr Arisa Voges aan die skadujurie leiding verskaf. Die name van die skadujurie sal nader aan die kompetisie aangekondig word.

· Die finaliste galakonsert op 14 Oktober begin om 19:00. Kaartjies kos R120, R90 vir pensioentrekkers, student en leerders. Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000, Shoprite en Checkers-winkels, of aanlyn by www.computicket.com.
· Toegang is gratis vir die eerste drie rondes van 10 tot 12 Oktober by die Hugo Lambrechts-Ouditorium. Die skedule vir die eerste drie rondes van die Nasionale Jeugmusiek-kompetisie is beskikbaar by http://www.nymc.co.za/schedule.php.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar