´n Aand met Ansela

Die gewilde Woordfeesproduksie, ´n Aand met Ansela, word binnekort op 27 September in die Dorpstraat Teater Café aangebied. Feesgangers wat laat geslaap het vir kaartjies by Woordfees 2004, kry nou die geleentheid om dié heel besonderse storie van Ansela te beleef.

Ansela van die Caap se spore lê diep in die geskiedenis van die eeue-oue Muratie wynlandgoed net buitekant Stellenbosch. Annatjie Melck, eienaar van dié landgoed, het nog altyd gewens dat méér mense Ansela kan ontmoet.

Ná ´n middag se kuier op Muratie, met sy Kaaps-Hollandse opstalle waarin mens vermoed nóg onvertelde stories wag, is besluit dat Ansela op die feesprogram móét wees. Aangesien kaartjies vir die program binne die eerste paar dae uitverkoop is, is besluit om dit weer ´n keer in die jaar aan te bied.

Helena Scheffer het in haar navorsing oor die Muratie-geskiedens ´n hoofstuk gewy aan Ansela. Diana Ferrus het dié gegewens verwerk tot drama en op Maandagaand 27 September is dit storietyd in die knus atmosfeer van die Dorpstraat Teater.

Deur gedigte, kort sketse en sang laat Diana Ferrus, Victor Fredericks en Albertus Davids reg geskied aan ´n aangrypende slawestorie. “´n Verhaal wat handel oor Ansela se opgang: van slawekind tot vrou van Campher van De Driesprongen,” vertel Diana.

Slawestories het volgens Diana ´n belangrike deel van ons letterkunde geword, omdat “ons skielik besef het dat ons nie ten volle mens kan wees as ons nie ons slawegeskiedenis ook ken nie. Om skaam te wees vir dié geskiedenis, is om vir onsself skaam te wees.”

Kaartjies vir ´n Aand met Ansela is R30 en moet by Dorpstraat Teater Café (021 8866107) bespreek word. Vir verdere inligting, skakel die Woordfeeskantoor by 021 8083513 of stuur ´n e-pos na fees@sun.ac.za

Lewer kommentaar

Leave a Reply