Die Pretty Ladies hou weer konsert en vanjaar doen hulle dit in die Klein Libertas Teater op Stellenbosch.
Sedert hulle stigting het Die Pretty Ladies reeds ses eie toneelstukke deur middel van werkswinkels op die planke gebring, vyf onder die regie van Amelda Brand. Hierdie jaar werk Brand en Die Pretty Ladies weer saam. Na ses jaar se saamwerk was dit tyd om iets nuuts te probeer. Brand is grootliks verantwoordelik vir die teks van Where’s the love.watse liefde, wat uit kort sketse bestaan. Hierdie sketse het tydens werkswinkelsessies verder vorm aangeneem en Die Pretty Ladies het toe ook sommer ´n paar stories bygevoeg.
Where’s the love.watse liefde? kombineer die energieke, komiese spel waarvoor Die Pretty Ladies nou al bekend is met sketse,vertellinge, klankopnames en poppekasstories. Liefde en lustigheid, seks en seerkry, opstaan en weer probeer is van die aspekte wat in hierdie ondersoek word.
Amelda Brand het in 2003 saam met Malan Steyn die stuk Drie Susters: ´n Plek geskryf wat as naaswenner beste teks by Aardklop aangewys is. Sy was in 2004 regisseur van die produksie Meermin by KKNK. Meeste lede van Die Pretty Ladies werk en bly op die plaas Nagenoeg buite Stellenbosch en maak al sedert/vanaf 1998 saam teater. Hulle produksie Stoei was by KKNK 2001 as deel van die hooffeesprogram opgevoer en hulle het gespeel in die pantomime Rooikoppitjie, onder Marthinus Basson se regie, in 2002.
In Where’s the love.watse liefde? word liefde onder andere vergelyk met ´n rivier in vloed, “as dit eers deur ´n plek gespoel het, bly daar net mooi niks oor nie”. Party karakters voel die liefde maak seer, ander het dit dat die liefde hoop bring. “O, jinne. Hoe beteken liefde dan nou so baie dinge?” . In hierdie toneelstuk word Die Pretty Ladies se lag-met-´n-traan tradisie wat hulle vorige werkswinkelproduksie gekenmerk het voortgesit.
