‘n zoeloe op my stoep

met permissie aan Leon Schuster

Onderhoud met Ludwig Wagner van Zuluspice

“Ek dink dit is gepas om die eerste Afrikaanse album wat in die buiteland geskryf, finansier, opgeneem en vervaardig is, op die eerste Afrikaanse radioprogram in Londen bloot te stel. Dit sal interessant wees om te sien hoe die album deur die Suid-Afrikaanse musiekbedryf ontvang word. Ek dink ons wys hiermee duidelik dat jy nie meer in Suid-Afrika hoef te bly om Afrikaans te wees nie.”

Ludwig Wagner, ‘n ervare film promotor met sy eie ontwerp en bemarkings-maatskappy in Londen, was onlangs so beïndruk deur die verskuilde talente van Machiel Roets dat hy hom opbel en sê dis hoogtyd vir ‘n persoonlike album waarop Roets sy eie komposisies uitvoer. Afrika Kind word op 17 Junie bekendgestel in Londen, en spesifiek op Resonance FM ( www.resonancefm.com ). Konserte volg op 18 & 25 Junie wanneer Machiel sy debuutalbum met spesiale voorvertonings aan Londenaars gaan voorhou.

Ludwig Wagner
Ludwig Wagner

Lui sy naam allerhande klokkies? Terug in Suid-Afrika was Wagner een van die stigterslede van die Cinema Nouveau groep en redakteur van die gepaardgaande Film Finesse tydskrif. Al is hy nie meer betrokke op besigheidsvlak nie, het Cinema Nouveau gegroei tot een van die grootste filmsuksesse nog, met filmfeeste vir fynproewers en rolprente van regoor die wêreld. As aankoper van onafhanklike- en kunsfilms vir Ster-Kinekor kon hy top filmfeeste besoek en rolprente en die vervaardiging daarvan is dan ook een van sy groot passies. Hy het uitgebreide kennis van bemarking in die Uitvoerende Kunste, was Bemarkings Direkteur van Lolafilms UK in Londen in 1999 and 2000 en hanteer tans die bemarking van die album Afrika Kind. Sy kliënte sluit in Channel Four en Filmfour.

Haydee Hollander het met Ludwig in Londen gesels op die vooraand van die eerste Afrikaanse radioprogram in die vreemde.

Film en reis is Ludwig se eintlike belangstellings. So was hy weer onlangs in Ierland (sien foto) en is hy besig aan die draaiboek vir ‘n Suid-Afrikaanse film. Daar is ook planne vir ‘n kortfilm mits finansiering gevind kan word.

“Die kortfilm is in Engels en word in Londen geskiet. Daar is baie film fondse hier, ons klop maar aan elke deur. ‘n Goeie kortfilm word jou “calling card” so dis belangrik om dit die eerste keer reg én goed te doen. Die vollengte film is gebaseer op ‘n kortverhaal wat in 1931 gepubliseer is en sal hoofsaaklik in Sotho maar ook Engels en Afrikaans wees. Meer as dit kan ek nie nou sê nie.”

thepassionofhenridunant

H: Ludwig, noem ‘n paar gunstelinge: rolprente, regisseurs, musikante, ‘n boek. Jou gunsteling kos?

L: Ongetwyfeld The Deer Hunter, ‘n all-time favourite. In die volgorde van jou vraag? Dan Saul Zaentz. Hy het op 50-jarige ouderdom sy eerste film vervaardig en dit was One Flew Over the Cuckoos Nest wat ‘n Best Picture Oscar in 1975 gewen het. Hy is nou 84 en het in dertig jaar slegs agt films gemaak (nommer 9 is nou in produksie) maar het sedert Cuckoos Nest nog drie Oscars gewen vir onder meer Amadeus en The English Patient. Hy het die visie gehad om die filmregte van die boek The Lord of the Rings in die 70s te koop… die res is geskiedenis. Ek word later die jaar 40. Zaentz bewys mens is nooit te oud om iets nuut te probeer nie, so daar is nog hoop vir my! Ek hou van alle musiek, is net nie gek na kontemporêre rap nie. Ook nie heavy jazz nie. Ek en my iPod met 10388 songs op wat permanent op shuffle is, is feitlik onafskeidbaar. My eie radiostasie in my ore! Great. Gunsteling boeke? Afrikaans – Toorberg deur Etienne van Heerden. Engels – The Hours deur Michael Cunningham en The Unbearable Lightness of Being deur Milan Kundera.
‘n Lekker bord Britse Bangers & Mash bly darem lekker. Ek dink ons is gespoil vir keuse hier in Londen, want jy kan feitlik enigiets eetbaar hier kry. My gunsteling kos is Thai maar ek is deesdae mal oor die kos by ‘n klein Sri-Lankaanse restaurant naby my blyplek.

H. Wat verpes jy?

L: Mense wat judge en mense wat nie honderd persent committed is tot wat hulle doen nie. As jy ‘n kak job gaan maak van iets los dit eerder.

handofgod

H: Hoe het jy op roekeloos.co.za afgekom?

L: Ek het searches gedoen vir Afrikaanse- en Suid-Afrikaanse musiek websites om Machiel se cd te bemark en so op julle afgekom.

H: Al meer kreatiewe advertensie maatskappye met jonger mense aan die stuur sien deesdae die lig, en die produkte wat hul lewer is van hoogstaande en individuele gehalte. Wat is die resep vir Zuluspice se sukses?

L: Ek dink dit gaan oor fokus. Ons weet wie ons teikenmark is en spesialiseer daarin.

H: Hoe maak jy jou merk in so mededingende en kompeterende wêreld?

L: Dis baie moeilik, veral in die begin. Maak nie saak hoe goed jy is nie, jy is ‘n nuweling hier en dit vat tyd. Ek fokus op kwaliteit diens, maak nie saak hoe klein die projek is nie, uiteindelik sal dit vrugte afwerp. O ja, en moenie te duur wees nie. Meeste van my kliënte is klein maatskappye met min geld, maar as hulle groei, groei ek saam. Ons is nie gemik op die Suid-Afrikaanse mark nie. Ek het wel aan projekte wat ‘n SA fokus het hier in Londen gewerk (onder andere die Suid-Afrikaanse Filmfees wat verlede jaar in Londen gehou is, die film Promised Land se internasionale publisiteit en nou die vrystelling van Afrika Kind). My teikenmark is die filmbedryf en produksie maatskappye in Londen maar uiteraard as gevolg van my persoonlike belangstellings, pak ek graag projekte aan wat ‘n Suid-Afrikaanse fokus het. Ek gebruik waar ek kan ontwerpers en kunstenaars wat in Suid-Afrika bly – ek dink dit is belangrik om blootstelling te gee aan Suid-Afrikaanse talent. Skep geleenthede vir Suid-Afrikaners wat nie toegang tot dieselfde geleenthede het as ons hier in Londen nie. Ons doelwit is om ‘n volwaardige media maatskappy te word vir musiek, film, boeke ensovoorts.

H: Op 17 Junie bied jy die eerste Afrikaanse radio uitsending aan in Engeland. Hoe het dit gebeur?

L: Ek het nog altyd van Afrikaanse musiek gehou en veral vandat ek in Londen bly, ‘n formidabele versameling opgebou (daar is baie dinge wat mens nie noodwendig waardeer as jy in Suid-Afrika is nie, maar mis as jy dit nie het nie). ‘n Vriend is ‘n tegniese volunteer by Resonance FM en het die moontlikheid van ‘n Afrikaanse program met hulle bespreek. Toe hulle instem het hy my genader. Die stasie word geheel en al bestuur en beman deur vrywilligers. Niemand word betaal nie. Die programskedule is ongelooflik dinamies, seker omdat al die aanbieders en kunstenaars passievol is oor hulle programme. Dis nie ‘n job nie, dis vir die liefde van die saak.

Resonance 104.4fm is London’s first radio art station, brought to you by the London Musician’s Collective.
It started broadcasting on May 1st 2002. It’s brief? To provide a radical alternative to the universal formulae of mainstream broadcasting.
Resonance 104.4fm features programmes made by musicians, artists and critics who represent the diversity of London’s art scenes, with regular weekly contributions from nearly two hundred musicians, artists, thinkers, critics, activists and instigators; plus numerous unique broadcasts by artists on the weekday “Clear Spot”.
Resonance 104.4fm is bringing a multitude of experimental sound, new music, radio art and interaction to the capital’s airwaves.

H: Die onderhoud is in Afrikaans. Is dit ‘n veeltalige stasie?

L: Programme is meestal in Engels, maar daar word in verskeie ander tale ook uitgesaai. Die keuse om in Afrikaans uit te saai was my eie, dis wonderlik om ‘n radiostasie in Londen te hê wat die geleentheid skep. Ek dink dis ‘n baie belangrike aspek van Resonance FM dat hulle erken Londen bestaan nie net uit Engelssprekendes nie, dat dit werklik ‘n internasionale stad is en feitlik elke kultuur op aarde hier verteenwoordig word. Dis wat Londen so lekker maak, jy kan wees wat jy wil. Ons moet wel toegewings maak om hier te woon, maar niemand skryf voor hoe jy jou kultuur mag (of nie mag) beoefen nie (binne perke natuurlik). Dis ‘n groot voorreg om vir Afrikaanssprekendes in Londen die geleentheid te skep om ook na Afrikaanse musiek op ‘n plaaslike radiostasie te luister.

H: Sal jy in Suid-Afrika ook gehoor word op 17 Junie?

L: Die program kan opgevang word via die internet deur Real Audio stream of MP3 stream. Die instruksies op die volgende link is duidelik uiteengesit: http://www.resonancefm.com/audio.htm Suid-Afrikaanse luisteraars sal ‘n toegewing moet maak rondom die tydsverskil. Die program sal van 20:00 – 20:30 (SA tyd) op die lug wees en ‘n herhaling vind op Vrydag 24 Junie plaas om 10:30 – 12:00 (SA tyd). Resonance FM het ‘n baie beperkte sein op FM, selfs in die buitewyke van Londen sal luisteraars via die internet moet inskakel.

H: Programinhoud? Wie is jou gaste?

L: Die program duur vir ‘n uur en ‘n half en die fokus is op alternatiewe Afrikaanse musiek van die afgelope vyf jaar gemik op mense wat miskien al langer as dit hier woon en nie blootgestel word aan nuwe musiek nie. Daar het wonderlike dinge gebeur met Afrikaanse musiek die afgelope paar jaar. Afrikaanse musiek het kreatief en intellektueel geword, ‘n soortgelyke rewolusie as wat in die vroeë tagtigs plaasgevind het. Afrikaanse kunstenaars sing nie net meer oor blomme en golwe nie, hulle praat uit die hart. Machiel Roets is my gas, ek dink dit is gepas om die eerste Afrikaanse album wat in die buiteland geskryf, finansier, opgeneem en vervaardig is op die eerste Afrikaanse radioprogram in Londen bloot te stel. Dit sal interessant wees om te sien hoe die album deur die Suid-Afrikaanse musiekbedryf ontvang word. Ek dink ons wys hiermee duidelik dat jy nie meer in Suid-Afrika hoef te bly om Afrikaans te wees nie.

H: Gaan dit ‘n gereelde instelling word of is dit ‘n eenmaligheid?

L: Vir nou is dit eenmalig maar indien die terugvoer positief is kan dit ‘n gereelde instelling word. Dit sal afhang van hoeveel mense inskakel en inskryf. Indien daar aanvraag is vir soortgelyke programme, kan ons dit skeduleer!

H: Jy praat van ‘n “formidabele cd versameling” in Afrikaans. Brei uit!

L: Weereens amper onmoontlik om te sê. Ek hou meer van spesifieke albums as kunstenaars. Ek is baie mal oor Andries Bezuidenhout se Insomniak, veral die liedjie Droomalmanak. Seker omdat ek ‘n Leonard Cohen fan is, maar ek dink dit is een van die beste Afrikaanse cd’s ooit. Herman Van den Berg verdien baie meer erkenning as wat hy kry. Ek dink hy is ‘n ongelooflike liedjieskrywer. Laurinda Hofmeyr en Amanda Strydom… ek verkies alternatiewe Afrikaanse musiek. Het jy al RKO se album gehoor – Stoomtrein wat nou onlangs vrygestel is?

Roekeloos Dagboek / Merk dié datum in jul dagboek:
Ludwig Wagner bied op 17 Junie 2005 van 19:00 – 20:30 ‘Londen is Lekker’ aan, ‘n kykie na die afgelope 5 jaar se kreatiewe en alternatiewe Afrikaanse musiek van Akkedis tot Karen Zoid en ‘n paar wilde diere daarby ingegooi. Musiek en nuus om jou boerewors by te braai! Gryp ‘n dop en skakel in vir ‘n dosis media muti en herinneringe. Die ateljeegas is Machiel Roets wat pas sy debuutalbum (in Londen opgeneem en vervaardig) vrygestel het.
Datum: Vrydag 17 Junie
Tyd: 19:00 – 20:30
Luister na Resonance 104.4fm of via Real Audio at www.resonancefm.com

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar