‘n Verslag aan dr. Johan

‘n Verslag aan Johan, my neuroloog, oor die gebeure van 26 Oktober 2004

(Verduideliking: Ek moes ‘n breinoperasie ondergaan sodat die chirurg ‘n diepbreinstimuleerder vir my kon inplant het om die negatiewe gevolge te beperk en om my met groter dosisse kan behandel.)

Liewe Johan
Jy het seker gehoor van die probleem vanoggend. Die Engelse oom het my hare geskeer – ek dink dat hy maar eerder sy “dagwerk” moet hou want Annelie en Marianna doen veel beter as hy!! Eintlik het ek dit baie waardeer. Wel ek is toe teater toe. Die Engelse oom en ‘n dokter met sagte handjies was daar en dan nog een van daardie omies wat in een of ander mediese skool moes leer om, sonder om te bloos, te sê: “Net ‘n prikkie – dit sal nie seer wees nie” en dan vat hy die stompste naald wat hy kan kry en druk dit in jou arm met die opmerking dat ek “are soos ‘n perd” het! As hy op perde wil werk … Maar nou ja!!!!!

Ek word toe gemaak sit en my stralekrans word opgesit! Die probleem was dat die Engelse oom en die tannie met die sagte hande nie wou glo dat my stralekrans vanself sou sit nie! Hulle draai dit toe met skroewe vas. Weet nie juis of die patent uit die middeleeue dateer om die pouse se stralekranse op te gehou het nie of dalk ‘n wyse van marteling was nie. Jy kon darem vir hulle gesê het dat ek nie so ‘n slegte outjie is nie en dat ek ‘n NG-dominee is. ‘n Spesie wat sommer direk hemel toe gaan en wie se stralekranse vanself bo ons koppe sweef.

Maar hulle woon nou eenmaal in die suidelike voorstede en het seker uit gewoonte dit wat nie gesluit kan word nie vasgeskroef. Maar dit sou nie help nie want selfs die letters by die deli het ook voete gekry toe die “C” by die “COLD MEATS AND SALADS” verdwyn het. Dis gevaarlik as van jou “letters” wegraak – so spelle of skroewe vas wat jy kan, want jy weet nooit nie …

Toe gee die perde-oom my pille om “my bloeddruk laag te hou”. Ek is mos nie ‘n bakleierige mens nie (of moes ek maar baklei het, dan het hy my dalk heeltemaal uitgesit). Ek wil nou weet wat die doel van ‘n lae bloeddruk is – is hulle bang vir “naar-kose”? Wat my betref – eerder die naar-kose as lae bloeddruk. Hulle hoef die naarheid my nie te spaar nie … regtig nie.

Dit lyk my toe asof dit maar vervelig in die teater was en dat ek vir geselskap wakker gehou is want hulle wou allerlei vrae vir my vra – hulle sien mekaar seker te veel en is verveeld met mekaar se stories. Verder lyk dit asof hulle krieket speel om die tyd om te kry. Hulle gebruik sulke hoge woorde soos Charles Fortune en kry maar min lopies: “I have a 3! And I have one! Now we have a Zero. Me too!” Is maar bly hulle gaan nie saam met Ray Jennings toer nie, want dan sal ons nie dubbelsyfers haal nie.

Die Engelse oom en die tannie met die sagte hande het toe gevoel dat hulle ook ‘n beurt wou kry om my af te knou met hul naalde. Hulle spuit toe vir my op 4 plekke in – hulle moet by oom Hennie Odendaal van Heidelberg leer inspuit want hulle “kap” toe op die plek waar die minste vleis is – op my kop! Oom Hennie het my gewys dat jy ‘n skaap op die boud of nek of wang kan inspuit maar waar hulle probeer het – was net vel en been!

Alhoewel my bloeddruk nie gestyg het nie, het die perde-oom pille onder my tong gesit – was dit dalk vir my hart wat sou gaan staan het soos oorle’ tant Poppie net voor ons haar sipresse toe gedra het … weet nie so mooi nie? Ek wonder of dit nie was vir die volgende hoofstuk nie. Die Engelse oom het sy hande gevryf, sy plestiekvingers uitgetrek en gesê: “I am very sorry but we will have to abort” Het hy nie ‘n fout gemak nie want aborsies vind mos nie by manne plaas nie! Toe vertel hy dat die masjien stukkend was. Regtig Johan ek het nie daarmee gespeel nie want al wat ek in die teater gedoen het as om te lê en bewe, te sweet en sulke fyn … te … soos ‘n sirkusleeu!

Die perde-oom het vir my gesê dat hy so jammer is dat ek nou die ergste weer moet verduur – die res van die operasie is kinderspeletjies (of soos ek sou sê … ‘n vulletjie). Jok hy alweer vir my? Of is dit ‘n dun naald die keer?

Verder gaan dit goed – my kop straal blykbaar genoeg hitte uit om ‘n 60 watt lamp te laat brand – my ore voel heel eensaam!
Groete
Emile

bydrae: Emile de Villiers

Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar