Oppiwa

Oppiwa is ommidraai.

Die dae tel af na Jacobsbaai se jaarlikse Oppiwa feestelikheid. Met 17 Afrikaanse kunstenaars aanboord, skop Oppiwa oor net meer as twee weke op dié dorpie Jacobsbaai af.

“Ons is baie opgewonde oor die lys swaargewigte wat ons hierdie jaar vir die Weskusgemeenskap kan aanbied,” sê Willie Singleton, sameroeper van die reëlingskomitee. “Die bespreking vir die waens is op volle dreef en sommige kunstenaars se waens is reeds vol bespreek, wat natuurlik beteken dat die Weskussers ook hou van die kunstenaars wat ons vir hulle uitgekies het.”

Buiten die ses waens wat op Vrydag 8 (6 ritte), Saterdag 9 (24 ritte) en Sondag 10 Februarie (6 ritte) elk met ‘n kunstenaar en 20 gaste deur die stofstrate van Jacobsbaai gaan ry, gaan die handiges, kunstiges en vlytiges van die plaaslike gemeenskap ook hulle ware vir besoekers te koop aanbied. “Ons gaan ‘n beperkte kunsvlyt- en tuisproduktemark met uitgesoekte produkte aanbied waar besoekers tussen hulle waritte kan rondsnuffel,” vertel Shaun Waso. “Een van die nuutjies by vanjaar se Oppiwa is ‘n uitstalling van plaaslike bierbrouers. In hierdie tent sal brouers van Camelthorn Weiss (Namibië), Stellenbrau Lager (Stellenbosch) en Mitchells Foresters Milk and Honey Ale (Knysna) hulle energiedrankies aan besoekers voorhou om te proe en as die smaak hulle geval, kan hulle sommer ‘n yskoue beker of wat daarvan koop.”

Die kele van die “gehore”op die waens gaan, soos verlede jaar, natgehou word met die komplimente van Ormonde Wyne van Darling. “Sonder die ongelooflike ondersteuning van ons borge sou dit eenvoudig nie moontlik wees om ‘n geleentheid soos hierdie teen sulke billike pryse aan te bied nie,”sê Willie. Die hoofborg, Ford, is nou vir die tweede jaar saam met ons op hierdie wa en maak dit vir ons moontlik om fasiliteite te skep wat dit vir die kunstenaars lekker maak om aan Oppiwa deel te neem.”

Die breër gemeenskap van Jacobsbaai is net so betrokke by die fees. Al die gasvrouens en –here waar die waens halfpad deur die kunstenaar se vertoning vir versnaperinge gaan aandoen, is inwoners van die dorp wat bloot op ‘n vrywillige basis deel van die gewoel van die naweek raak. Jacobsbaai Sea Products sit die kersie op die koek met hulle skenking van perlemoen vir die Sondag se laatontbyt waar die beeldskone Anna Davel met haar engelstem gaan optree.

Oppiwa
Oppiwa
“Om Jacobsbaai se grondpaaie deurlopend in die toestand te hou waarin ons dit graag wil hê, is nie altyd maklik nie, maar met so ‘n groot trekpleister vir ons munisipale gebied, laat ons geen steen onaangeraak om die dorpie op sy beste vir besoekers uit te tof nie,”het Mnr Japie Julies van die Saldanhabaai Munisipaliteit gesê.

Oppiwa program >>

Kaartjies vir Oppiwa is beskikbaar op die webblad www.oppiwa.co.za

Vir meer informasie en foto’s besoek Oppiwa se Face Book Blad by https://www.facebook.com/Oppiwa – aanlyn kaartjies is hier ook beskikbaar.

Lewer kommentaar

Leave a Reply