Lefra Produksies is reeds welbekend vir die klugte wat hulle elke jaar aanbied, en in 2016 maak ons weer so!
In 2016 word Ray Cooney en John Chapman se There Goes the Bride in Afrikaans aangebied as Daa’ Gaat die Bruid. Dis die eerste keer dat hierdie produksie in Suid-Afrika aangebied word. Suid-Afrika se eie klugkoning Frans Swart, sal weer verantwoordelik wees vir die vertaling, verwerking en regie van die nuwe produksie.
Dis die oggend van Judy se troue. Alles is in rep en roer om alles in gereedheid te bring vir die troue later die dag. En dan slaan die klug toe! Terwyl Judy en haar ma, Ursula gereed is om kerk toe te vertrek, kry haar pa Timothy, die uitvoerende hoof van ‘n advertensiemaatskappy, ‘n hou op die kop en dan begin die poppe dans – letterlik! Polly, ‘n pragtige “cut-out” meisie van een van sy advertensieveldtogte, kry lewe. Voeg daarby ‘n seniele ouma, ‘n moeilike oupa, ‘n verdwaalde skoonpa en ‘n deur of drie, en jy beskik oor al die lekkerlag elemente van nog ‘n histeriese Lefra-klug! Splinternuut en vir die eerste keer word hierdie West-End treffer in Suid-Afrika opgevoer in Afrikaans.
Oudisies vir die rolverdeling word gehou op Donderdag, 26 November en Vrydag, 27 November in die Universiteit van Johannesburg se teater, op die hoek van Kingswayweg en Universiteitsweg, Auckland Park. Lefra Produksies ontvang graag aansoeke vir die volgende rolle:
1. Ursula Westerbury: 45 – 55 | Moeder van die bruid, aantreklik en verkeer onder hewige druk
2. Judy Westerbury: 20’s | Die bruid. Het ‘n paar geheime…
3. Dr. Gerald Grimmond: 60 – 70 | Oupa van die bruid aan die moederskant. Effens vaag/vaak en doof.
4. Bill Shorter: 45 – 50 | Besigheidvennoot van die vader van die bruid, aantreklik en stylvol.
5. Timothy Westerbury: 45 – 55 | Vader van die bruid, uitvoerende hoof van advertensieagentskap
6. Daphne Grimmond: 60 – 70 | Ouma van die bruid aan die moederskant. Op en wakker.
7. Polly Perkins: 20 – 30 | ‘n Flapper vanuit die twintigerjare. ‘n Hallusinasie wat net Timothy kan sien.
8. Charles Babcock: 45 – 55 | Vader van die bruidegom. Aantreklike, songebrande Suid-Afrikaner wat Australië toe emigreer het.
Daa’ Gaat die Bruid premiere by 2016 se ABSA KKNK en word daarna regoor die land opgevoer. Dit word ook op Lefra Produksies en RSG se baie gewile Oppiwater Kunstefees op die MSC Sinfonia aangebied. Die produksie sal speel tot Januarie 2017.
Akteurs wat oudisies wil kom aflê, kan gerus hulle CV’s aanstuur na admin@lefra.com, of faks na 086 619-0442. Nie alle aansoeke gaan outomaties genooi word vir ‘n oudisie nie, maar slegs diegene wat Lefra Produksies geidentifiseer het. Jy sal gekontak word indien jy vir ‘n oudisie genooi word. Tekste sal op ‘n latere stadium gestuur word. Dit is baie belangrik vir die oudisies dat voornemenende akteurs woordvas is.