Pa … vir Dummies is ‘n nuwe solostuk met Neels van Jaarsveld in die rol van Dries Klopper (28), wie se doodgewone, lekker lewe ontwrig word deur die oorweldigende uitdagings van vaderskap.
Dis ‘n helse skok vir sy sisteem, en nie noodwendig ‘n aangename een nie. Soos soveel jong pa’s voor hom, kon hy nooit die aardskuddende, onthutsende veranderinge en aanpassings in sy lewenstyl voorsien nie, wat nog te sê verwerk!
Die bekende Tobie Cronjé behartig die regie van Pa…vir Dummies. Die teks is deur ‘n drie-tal skrywers – Schalk Schoombie, Jackie Hancke en Kabous Verwoed. Die produksie word geborg deur RAPPORT en die vervaardiger is Giep van Zyl.
Dries het ‘n nogal ‘n ge-irriteerde uitkyk op die soms onaangename omwentelinge wat hom in ‘n rigting stoomroller. Wat nie beteken hy’s ‘n goorgat nie. Allermins. Dries is ‘n nice outjie, nie onaardig in die “looks” departement nie; sportief, heel sjarmant en ‘n regte jintelman wanneer hy wil wees.
Hy kan lekker uitrafel saam met sy pelle. Hy is gek na rugby, en natuurlik ook kos en slaap.
Lees? Nie eintlik nie, net as vroulief iets in die Huisgenoot of Vrouekeur onder sy neus druk.
Fliek? Transporter 1 en 2, skop, skiet & donder, enigiets met Bruce Willis en Denzel Washington.
Hy bedryf sy eie besigheid, ‘n slotmakery wat uitkom na mense as hulle uit huis, kar en winkel gesluit het.

Hy sien homself as heel verlig en ingelig oor sake van die dag, ‘n metro-pa wat darem skeer en sweetweerder aanspuit, ‘n Sensitiewe outjie wat vroue- en babataal probeer verstaan. Romanties.
‘n Bietjie van ‘n klakous, kleinserig soos die meeste Afrikaanse mans, maar beslis geen lafaard nie. Hy sien kans, en dis sy redding. Hy het so baie om te leer.
Pa …vir Dummies met Neels van Jaarsveld is 15 Junie by Die Boer in Durbanville. Kaartjies is R100. Bespreek by 021 979 1911 / 083 406 0111 .
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
