Na 8 jaar het die veteraan kunstenaar Piet Botha weer ‘n Afrikaanse album die lig laat sien. Die nuwe CD heet Spookpsalms en bevat 11 splinternuwe komposisies.
“Daar was al ‘n paar liedjies maar toe die TV program Wie lê waar opduik het dit die hele album in ‘n ander rigting gestuur. Vanaf September tot Desember 2010 was ons op die pad besig met die verfilming, dwarsdeur die land en omdat die program so ‘n sterk historiese inslag het, het daar ‘n ander element ingetree in die werk, naamlik ‘n tipe tradisionele, tydlose gevoel … wat dan weer aanleiding gegee het na die idee van die Spookorkes wat hierdie liedjies opvoer .” sê Botha.
Daar is ook gepoog om soveel as moontlik by tradisionele instrumentasie te bly. Derhalwe is die album vol akoestiese kitare, klavier, mondfluitjie, trekklavier, saksofoon en orrel. Dit is ‘n eiesoortige stuk werk, heeltemal buite die moderne genre en totaal anders as Botha se vorige Afrikaanse albums.
“Die moeilikste ding is sekerlik om met eenvoud ‘n gewigtige saak te kan oordra, en dis wat hier gepoog is. Selfs die humor wat opduik is satiries en laat mens lag, maar met nabetragting.”
Die album is in April opgeneem deur Lanie van der Walt wat ook die regie en meng behartig het asook die double-bass gespeel het. Die tromme is oudergewoonte deur Paul vd Waal gespeel en die baskitaar deur Tertius du Plessis. Piet Botha het kitare, klavier, orrel en mondfluitjie gespeel en gesing.
Die pragtige vrouestem is deur Loandi Boersma gelewer. Verder was dit geweldig opwindend om uiteindelik vir die legende Ollie Viljoen saam op ‘n album te hê, op trekklavier en orrel. Nog ‘n ou vriend en eertydse lid van die Jack Hammer-groep, Leon van Zweel het die saksofoon laat huil. Donovan Borne het agtergrondsang gelewer en so het die Spookorkes die liedjies lewe gegee.
Wat opvallend is van hierdie werk is die suiwer Afrikaans wat gebruik word.
Daarbenewens die gevoel van ‘’n ander tyd’, as mens dit so kan stel, wat mens ervaar met die deurluister daarvan. En dan die oorspronklikheid.
Van die musiek op “Spookpsalms” is ook in die TV reeks Wie lê waar gebruik. Van die nuwe nommers wat klaar aftrek kry by gehore is “Bitterfontein”, “Sysie September” (‘n nuwe verwerking van ‘n tradisionele Griekwa liedjie), “Stad sonder naam”, “Die heks is dood” en “Richmondstraat”.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
