Het jy al gehoor van Pretoria se bekendste spookverskynsels soos die twee meisies in die Erasmushuis, Elfie in die Victoria Hotel en die man wat destyds deur ‘n gees in die Schubartparkwoonstelle geklap is?

Dit is ’n aand van klassieke storievertellings – maar daar is ’n kinkel in die kabel, want dié vertoning speel nie op ’n verhoog af nie.

Dit is inderwaarheid ’n Storie-op-Wiele-produksie waar jy as reisende gehoorlid per bus deur die strate van die Jakarandastad geneem word terwyl al daardie nostalgiese stories wat in die donker opgesluit lê, aan jou opgedis word.

Daar word wel ook hier en daar onverwags gestop vir nog interessante stories buite die bus.

Geen van die stories op die program is fiksie of uit die duim gesuig nie. Alle vertellings is gebaseer op ware verhale wat reeds in die media of ander publikasies gepubliseer is.

Vertellings wat jou kop in ongeloof sal laat skud, of ander wat koue rillings deur jou lyf kan stuur.

Kom klim dan op die storiebus en word weggeneem in die donkerte van die nag. Maar wees gewaarsku: wanneer jy die gedreun van die bus-enjin onder jou hoor, is daar geen omdraaikans meer nie . . .

Op die aand se storiespyskaart wag daar ongeveer 40 vertellings saamgestel uit spookstories, misdaadverhale en die geskiedenis van die stad en sy geboue. Alles naatloos in mekaar geweef om een unieke geheel te vorm:

Spookstories

Die meeste van die spookstories het in Pretoria afgespeel, soos onder andere:

 Alfie se verhaal is wyd gepubliseer. Hy was in die 1940’s ’n permanente inwoner van die Victoria Hotel, oorkant die Pretoria-treinstasie. Maar nadat hy in sy hotelkamer gesterf het, is sy teenwoordigheid tot tenminste die vroeë 2000’s nog daar waargeneem.

 Tussen 1978 en 1979 het ’n donker verskynsel, wat gou die bynaam McMucklegyver gekry het, gereeld oor die sportsgronde van The Glen High School beweeg. Destydse koerante het berig hoe inwoners saans in die straat langs die sportgrond geparkeer het in die hoop om hom te sien. Maar wanneer hy wel verskyn, is daar vinnig weggejaag.

 Die geskiedkundige en imposante Erasmushuis, wat in 1903 gebou is, is een van Pretoria se mees bekendste bakens. So ook die verhaal van die twee Erasmusdogters, wat volgens die oer-ouelegende in die kloktoring opgesluit is, sê  talle verskynings in die huis na hul dood.

 In 1994 sit Rudolp Steyn in die bad van sy en sy suster se woonstel in die Schubart Park-woonstelkompleks. Toe koggel hy die spook, wat sy suster blykbaar al van te vore in die kombuis gesien het. Die volgende oomblik word hy onverklaarbaar hard teen die rug geklap.

Uit ander dele van Suid-Afrika kom nog meer spookverhale wat insluit:

 Die gebeure wat vroeg in 2011 in ’n hospitaal in Port Alfred afgespeel het. Koerante het vertel hoe veiligheidswagte in daardie tyd gereeld ’n verpleegster opgemerk het wat snags deur die ingangshekke gestap het – maar dan het sy net so in die niet verdwyn.

 Die spookmeisie wat langs die pad na Uniondale ryloop, is sekerlik een van Suid-Afrika se mees bekendste spookverhale. Selfs ’n Britse film-span het in die 1980’s ’n dokumentêre TV-program oor die gereelde verskyning van Marié Roux hier kom  maak. Daarom word haar storie ook vertel.

 Dan is daar die gedaante wat 10 jaar gelede in Steytlerville amok onder die inwoners gesaai het. Huisgenoot, Netwerk24 en verskeie ander plaaslike koerante het oor dié onding berig.

Misdaadstories

Daar word liefdevol na Pretoria as die Jakarandastad verwys. Maar Pretoria het wel ook deur die dekades sy eie kwota geheimsinnige, vreemde en afgryslike misdade opgelewer.

 Soos byvoorbeeld die sogenaamde Pangaman, ’n reeksmisdadiger en verkragter, wat in die 1950’s verliefde paartjies saans in parke en ander vryplekke aangeval het.

 Tussen 1988 en 1990 is die land geruk deur die raaiselagtige verdwyning van sewe tienermeisies in Pretoria – dit is die verhaal van die gewetenlose pedofiel, Gert van Rooyen. Terwyl dié storie vertel word, ry ons op presies dieselfde roete as wat sy minnares, Joey Haarhoff, in Januarie 1990 gery het nadat sy hul laaste slagoffer vanaf Kerkplein ontvoer het.

Geskiedenis

Herontdek tussen dit alles deur die interessante geskiedenis van die stad.

Pretoria, as die hoofstad van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (1857 – 1902), het ’’n onvergeetlike verlede. Pretoria was in daardie tyd ook die middelpunt van die bloedige Anglo-Boereoorlog (1899-1902), daarom maak ons tydens die pta-SPOOKBUS-uitstappie ook ’n storie-draai by dié gebeure.

Beleef ’n multimedia kultuur-historiese ervaring met Jaco Hough-Coetzee as storieverteller.

Dit alles op Saterdag, 21 Oktober 2023, om 18h30 in Pretoria.

Besonderhede en aanlynbesprekings by: https://spookstories.co.za/

Lewer kommentaar

Leave a Reply