deur Ferdi Wheeler
Die bonkige stuk argitektuur is ‘n spelonk in baie opsigte van die woord. Dis nie ‘n verbeeldingryke ontwerp nie, eerder planmatig. Dis gebou as ‘n hospitaal vir geestesongesteldheid. Ek sal die bewoners daarvan troglodiete noem, net om te strook met die metafoor. Oor die jare het troglodiete, wat aan alle ongesteldhede van die wêreld se handboeke oor die onderwerp beantwoord, die gange, portale, kamers, sale, spreekkamers, ensomeer bewandel en vol gesit en gelê.
Die storie gaan dan oor troglodiete en gedrogte. Die twee moenie met mekaar verwar word nie. ‘n Troglodiet, soos die wat die spesifieke spelonk bewoon het, het almal se simpatie nodig. Die gedrogte, wat per geleentheid die spelonk, met sy hoë wit mure en rooi teëldak, binnedring is sadiste, Machiavelliane, empatieloses, Narsissiste en ook onderdrukkende outoritêre wat mense in dwangbuise plaas en forseer.
Ignoreer dus die negatiewe konnotasies wat aan die woord, troglodiet, in verskeie kulture geheg word. Ek verwys hier na die troglodiet as kluisenaar. Ek sê geensins dat die troglodiet in die spelonk agterlik, of oudmodies is nie. Hulle is kluisenaars omdat hulle in die gees so is. Selfs die wat oënskynlik ekstroverte is, se uiterlik is maar oëverblindery om kluisenaarsiele te verberg – die deel wat nie iets met die wêreld te doen wil hê nie. Of wat hulle huiwer om aan die wêreld te wys, omdat hulle ostrassering vrees.
Die gedrogte, daarenteen, is klaarblyklik onbewus van hul afstootlikheid. Dis ‘n bepaalde vorm van blindheid en selfbedrog ten opsigte van hul ware aard, terwyl hulle op troglodiete spioeneer, hulle intimideer en uitvat in die naam van rassuiwerheid en as ‘n “klaarblyklike” gevaar ten opsigte van die heilsaamheid van die staat.
Maar genoeg van die akademiese praatjies.
Op ‘n dag arriveer ‘n troglodiet, noem hom Sol, vir toelating. Hy reis per donkiewa. Hy kom goed oor die weg met die donkies, wat geduldig in die tuig trek. Dis ‘n halfdag van sy beskeie woning af tot by die poort van die spelonk. Hy ken die spelonk se binneste goed. Hy was al verskeie kere daar.
Sol is ‘n kort mannetjie en ‘n geswore kluisenaar. Hy’s mensverskrik en angsbevange tussen ‘n menigte. Die spelonk huisves sommer ‘n hele klomp spelonkwerkers wat troglodiete soos hy aanmekaar lap, te wete: psigiaters, kliniese kopdokters, arbeidsterapeute, fisioterapeute en verpleegkundiges. Die hulpfunksies tot sy beskikking, word verrig deur ‘n kok, kombuishulpe, skoonmakers, kelners, ‘n apteker en sekuriteitspersoneel.
By die poort tot die spelonk moet hy eers sekerheidsklaring kry. Die Republiek het in ‘n woeste toestand verval en misdadigers kom in alle geure en kleure uit hul gate. Dit wemel selfs in die sekuriteitsektor en die sekuriteitsbeamptes is ook potensiële gedrogte, gegewe dat hul ex officio met ‘n bepaalde gedrogtekorps van die Staatspolisie saamgegroepeer kan word.
Die sekuriteitsbeampte by die hek is bewapen met ‘n vlymskerp panga in ‘n skede aan ‘n gordel om sy middel. Die vorm op sy klipbord moet noukeurig ingevul word. Alles biografies word geenkodeer. Vanwaar? Rede vir sending? Naam? Ouderdom? Adres? Ensomeer. Sol se rytuig word in detail beskryf. Tot die name van die twee donkies: Bileam en Jakob. Dis reg, Bileam is ‘n pratende donkie.
“Vra hom of hier genoeg voer is, Meester,” balk Bileam.
Die sekuriteitsbeampte frons oor die donkie se luidrugtigheid, maar hy verstaan nie donkies nie.
“Ek neem aan my verblyf hier sluit voer en water vir die donkies in?” herhaal Sol soort van die vraag.
“Donkievoer en water is beperk tot een baal en vyf liter per dag,” antwoord die sekuriteitsbeampte en hou die klipbord na Sol toe uit. “Teken,” beveel hy.
Sol neem die klipbord met bewende hande en krabbel sy naam op die aangewese lyn so bewerig dat niemand daarna ooit sy naam sal kan ontsyfer nie.
“Jy’t sekerheidsklaring,” sê die sekuriteitsbeampte en stap met stywe bene terug na sy hokkie toe.
“Ek hou nie van die man nie en die plek ruik na dieremishandeling,” balk Bileam, maar hy en Jakob, die stomme, kry die wa werktuiglik aan die gang na die kamp binne die poorte van die spelonk toe.
“Ek sal julle soggens en saans kom besoek,” troos Sol.
“Ha!” balk Bileam ontevrede.
Sol laat dit daar, span die donkies uit en maak die kamphek vir hulle oop. Die wa laat hy geparkeer tussen ander waens en koetse neffens die kamp.
Die ingang tot die imposante vooraansig van die spelonk kol donker in die helder daglig. Sol stap met sy tas die skadurige oog binne. ‘n Bord langs die voordeur dui aan dat hy links moet hou. Dit lees: Troglodiete aanmelding, bokant ‘n pyl wat links wys. Hy gaan staan voor ‘n toonbank.
‘n Meisie in uniform sit daaragter en kontroleer gegewens op ‘n staat. “Naam?” vra sy.
“Sol…”
Sy gee ‘n gilletjie en Sol weet onmiddellik dat sy ‘n gedrog is. Die gilletjie sê dat sy op sy aankoms bedag is.
Dis soos dit gaan in die spelonk: jy moet jou weg voel-voel baan tussen troglodiet en gedrog deur. Nodeloos om te sê dat hy weer grondig ondervra word. Dan’s hy vry om die spelonk binne te gaan.
Hy’t gevra vir ‘n privaatkamer in die spelonk. Sy groot vrees is om saam met gedrogte in in ‘n saal te beland. Om met gedrogte te deel, beteken om 24/7 geïnspekteer, geboelie en moontlik ook besteel te word. Daarby moet ingereken word dat gedrogte kuddegebonde is. In die kudde soek hulle voortdurend bevestiging van mekaar dat hulle nie gedrogte is nie. Al jaag hulle ook al hoe aan. Sol is gereed vir hul truuks. Die groot geheim is om die gedrogte te lokaliseer, want, juis weens sublimasie, is hulle gekamoefleer. Op die oog af sou jy sê die spelonk het net ‘n kwota troglodiete.
Vervolgens moet hy dus by die verpleegpersoneel aanmeld. Dié is net vroulik en sit in ‘n kring in ‘n groot portaal, onmiddellik verby die voordeur. Sol stop in sy spore. Hy’s gekonfoes – spoilt for choice. Hy besluit om ‘n mooi donkerkop te probeer. Sy kyk in elk geval glimlaggend en uitnodigend na hom.
“Welkom, troglodiet,” sê sy melodieus, waar hy voor haar staan.
“Ja, uh …” hakkel Sol.
“Naam?”
“Sol.”
“A, Sol! Kom ek wys jou jou kamer.”
Troglodiet of gedrog, wonder hy. Dat sy hom onmiddellik kan plaas, is ‘n slegte voorbode. Hy volg haar half sleepvoet. Dit blyk dat sy kamerdeur op die kring verpleegsters uitkyk. Op daai oomblik kan hy net generies na hulle verwys, want net die tyd sal leer wie’s troglodiet en wie’s gedrog.
Die verpleegsuster stel haarself bekend as Lois. Sy heet hom welkom. Sy bly draal. Selfs toe hy sy koffer op die bed oopknip en sy klere in die kas uitpak.
“Jy’s seker moeg, na die halfdag op die donkiewa,” sê sy.
Tag! Dink Sol. Sy weet darem baie van hom. Dan moet die mooie mens gedrog wees, dink hy en voel depressief.
“Jou psigiater sal jou om drie uur sien,” sê sy en loop uiteindelik.
Hy ken die psigiater nie. Hulle het briewe per poskoets gewissel, maar dit was formeel. Hy weet net haar naam is Wilma. Van al die personeel wat gereed is om hom te bedien, is sy al een wat hom interesseer. Die poeiers, strope en pille wat sy vir hom sal voorskryf, hoop hy, sal hom van die skrik genees. Hy’t geen ander hoop nie, want hy weet dat die gedrogte enige kalmerende atmosfeer in die spelonk sal uitkanselleer.
Dis alreeds halfdrie, wys sy polshorlosie. Dis tyd om Wilma te gaan opsoek. As hy vroeg is, ruim sy dalk gouer tyd vir hom in.
“Lois,” sê hy by die kringtoonbank,” waar kry ek vir Wilma?”
“Op met die trap reguit aan, links anderkant die portaal, dan reguit aan, links na die portaal, dan reguit aan tot by die volgende portaal se wag-area. Sy sal jou daar kry.”
Hy loop. Die plek is ‘n baaierd, maar hy maak dit tot in die wag-area. Daar’s reeds troglodiete wat wag. Drie van hulle. Sol gaan eenkant sit. Vermy oogkontak met die ander.
“Meester, hier’s nie voer nie!” hoor hy Bileam in die vêrte balk. Bileam se vulletjie-agtigheid verhoog die spanning in hom. Hy klem sy hande tussen sy knieë vas. Wag. Bileam balk af en toe. Die drie troglodiete raak geholpe. Telkens wanneer hulle kopdokters uitkom en een roep, kyk hy afwagtend op. Dis eers skuins na drie, dat ‘n petite blonde vrou hom kom roep.
“Sol…?” sê sy aarselend.
“Ja!” sê hy en spring regop en vou sy arms afwerend op sy borskas.
Sy merk die houding en glimlag. “Stap saam met my en welkom hier.”
“Dankie,” sê Sol.
Haar kantoor is ruim en sonnig. Die lessenaar is effens deurmekaar en miskien het sy ook hulp nodig, dink hy. Om hom op sy gemak te stel, begin sy met beuselagtige vragies.
“Aangename reis gehad hiernatoe?”
“Ja, Goeie weer en geen wawiel het gebreek nie. Bileam is goeie geselskap en dit maak die pad korter.”
“O, het iemand jou vergesel?”
“Bileam is ‘n donkie…”
“Interessant!” sê sy en maak ‘n nota in haar gedagtes dat die kêrel ‘n spesifieke hallusinêre afwyking het. “Ek neem aan dat jy meeste van die praatwerk doen?”
“O nee! Bileam is nie op sy bek geval nie.”
“Wragtie!” Sy vat ‘n gansveerpen en trek ‘n velletjie papier nader. Sy doop die pen in ‘n porselein-inkpotjie en skryf:” Bileam praat. Gesprek vloei tussen Sol en donkie.” Sy sit die gansveerpen weer in ‘n houertjie en leun terug in haar stoel. “Dis baie interessant, jongie. Ek’t nog nooit van so iets gehoor nie.”
“Meeste mense verstaan nie Donkies nie. Maar dit hang van die donkie af. Jakob weer, is byvoorbeeld stom.”
“Jakob is… ‘n donkie?”
“Ja, hy trek saam met Bileam die wa.”
“Miskien moet jy my wys hoe julle gesels.”
“Sal nie help nie. Veral as u nie Donkies magtig is nie.”
“Ek sien…” Sy vat weer die gansveerpen en skryf:” Grens tussen skyn en werklikheid – verward.”
Uit vorige ervaring weet Sol dat die gevraery lank kan aanhou en op ‘n dooie punt sal uitloop, terwyl hy eintlik daar is om preparate by haar te kry.
“Ek’s hier omdat ek hoor u baie goeie preparate meng,” sê hy dan in ‘n poging om die gesprek na sy behoefte terug te swaai.
“Nou goed, wat gebruik jy tans?”
“Kruid van die Heilige Jan, ginseng, kamille, laventel en saffraan. Ek dink dis die beste, maar miskien is die verhoudings nie reg nie.”
“Soe! Vir watter simptome?”
“Bewerigheid, angsaanvalle, insomnia, nagmerries – as ek slaap – letargie, dubbel visie, tandegekners, rusteloosheid oor die algemeen, wat omsit in ‘n doellose gelopery en so aan.”
“Sien jy gesigte?”
“Ek’s nie met die helm gebore nie.”
“Ruik en hoor jy dinge wat nie bestaan nie?”
“Nee. Ek het ‘n fyn neus en is ‘n goeie kok en ek kan ‘n speld hoor val.”
In die vêrte balk Bileam alweer:”Hierdie koetsperde vreet lekker en ek het niks,” balk hy.
“Ek is bly om te dit te hoor,” sê sy en bring sy aandag terug na die hede. Maar in haar binneste is sy ongelowig. “Ek gaan vir jou ‘n preparaat voorberei, wat jy voor sononder sal kry. Dan praat ons more weer en sien hoe dit gaan.”
“Dankie, edele dokter,” sê hy en staan op – bly dat die onderhoud verby is en hy met ‘n preparaat beloon word. Hy wikkel met die kronkelgange van die labirint terug tot in sy kamer. Sy eerste prioriteit is nou om Bileam te help.
Hy moet die sekuriteitsbeampte sien. Hy vermoed dié is verantwoordelik vir voer en water – siende dat hy so op die hoogte van pryse en voorsiening is.
Die sekuriteitsbeampte staan in sy hokkie se deur.
“Meneer, ek wil net uitvind oor die voer en water vir my donkies,” sê Sol.
“Wat daarvan?” vra die sekuriteitsbeampte nors en kyk met veel vertoon op sy polshorlosie. Dit was al vyfuur en sy aflos kom nou enige tyd. Hy smaak nie na rompslomp op daardie oomblik nie.
“Kan u my behulpsaam wees daarmee?”
“Nou ja, jong, kom dan,” sê die sekuriteitsbeampte duidelik moerig. “Jy betaal vir die twee donkies, né?”
“Asseblief, ja.”
Nou goed, ek maak die rekwisisie uit. Dis tien kopek vir die drie dae. Betaling vooruit.”
Sol haal die tien kopek uit sy broeksak.
“Dis als reg nou,” sê die sekuriteitsbeampte en vat die geld.
Sol wyfel, maar wil nie opdringerig wees en onmiddellike lewering te eis nie, gegewe die ou se slegte bui. Hy stap dus maar na die kamp toe.
“Donners of ek nou donkies gaan voer, die tyd van die dag,” brom die man, klaarblyklik ‘n gedrog, en steek die tien kopek in sy sak.
Bileam kom na die hek toe. Hy stamp met ‘n hoef teen die grond, maar sê eers nie ‘n woord nie.
“Die sekuriteitsbeampte belowe hy bring nou jul voer en water,” sê Sol by die hek.
“Vertrou jy hom?” balk Bileam. “Kyk na Jakob – sy kop hang behoorlik.”
“Ek kom na aandete weer ‘n draai maak,” sê Sol sussend.
“Ha! Eet maar lekker. Ek skop nog die hek oop en gaan wei. Moet my nie verkeerd verstaan nie.”
“Ek weet, maar ek belowe,” sê Sol en stap terug.
“Beloftes, beloftes, beloftes!” balk Bileam hom agterna.
Sol is skaars terug in sy kamer, voor Wilma opdaag. Hy sit op ‘n lazyboy toe sy instap met ‘n kardoesie. Sy gaan sit op sy bed teenoor hom.
“Ek het jou preparaat gebring en jy moet nou mooi luister,” sê sy en hou ‘n 500 gram fles voor haar in die lug. Sy’t dit uit die kardoesie opgediep. “Die preparaat bevat sterk medisyne. Om jou gemoedstoestand te verbeter, is hier eerstens ‘n skeppie heroïen in. Maar die beste is die fyngemaalde sampioen, ook bekend as bruin knopies. Ek koop dit op straat deur vir simpel Simons te vra. Dis psilocybin wat al eeue as medikasie gebruik word. Daar’s nog ander eksotiese elemente in, maar dis my geheime resep. Neem dit net saans voor jy inkruip. Dis hallusinêr en sal jou laat ontspan en droom. Die maatlepeltjie – sy hou ‘n silwer lepeltjie in die lug – hou vyf milligram. Afhangend van jou gestel, kan jy tot twee dae lank daarby baat vind.” Sy swyg en kyk na Sol.
“Heroïen en magiese sampioene?”
“Ontspan. Die heroïen is te min om jou te verslaaf. Die psilocybin is die natuur se geskenk aan ons. Dis hemels, maar verslaaf nie.”
“Edele dokter, dit klink na die preparaat waarvan ek nog net gedroom het.”
“Nou verstaan jy! My pasiënte, en almal is nie troglodiete nie, kom altyd terug vir meer. Jy sal die lewe hierna deur ‘n ander bril sien.”
“Baie dankie.”
“Tot more dan,” sê Wilma, staan op en vertrek ewe saaklik.
Sol staan op, vat die fles op die bedkassie en bekyk die grys poeier daarin. Hy sit dit weer neer en gaan eet. Aan die etenstafels wat verspreid in die eetkamer staan, sit daar ander troglodiete, wat soos hy by oop tafels gaan sit en die geselskap van ander vermy.
Terug in sy kamer kan hy hoor hoe Bileam raas.
“Nog niks te vrete nie!” En:” Meester, kom help!” balk hy.
Sol is raadop. Hy wag. Nege uur gooi hy ‘n lepeltjie vol van die grys poeierpreparaat in ‘n halwe glas water en sluk dit weg. Hy wag vir die preparaat om te werk. Eers voel hy maar steeds bedruk, maar dan begin dit voel of hy ligweg sweef. Hy voel opgewek en gemoedelik. Lus vir die lewe en hy weet hy moet iets aan Bileam se saligheid doen. Hy stap deur toe, maar steier terstond terug.
Dis die toneel by die kringtoonbank wat hom gooi. ‘n Groot hottentotsgot en ‘n reuse vuurvlieg staan by die toonbank en praat met ‘n mensgrootte vlieg, gesete agter die toonbank.
“Krrr,” sê die hottentotsgot, “ons gaan daai donkie nou stil maak.”
“Bzzz,” sê die vuurvlieg, “miskien vir altyd.”
“Zoem,” sê die vlieg, “julle moet iets doen. Hy’s berserk. Wag net eers tot die troglodiete slaap.”
Sol loer om die deur. Dis waar: die spelonk huisves gedrogte.
“Bzzz, net so,” sê die vuurvlieg.
Die vlieg kyk af na haar huiswerk op die tafelblad voor haar. Hottentotsgot en vuurvlieg begin wegdraai, terug na die slaapsaal langs Sol se privaatkamer toe. Sol koes en druk sy deur toe. Hy bly met sy oor teen die deur staan. “Krrr” en “Bzzz” hoor hy hoe die twee insekgedrogte voor sy deur verbystap. Dit raak stil. Daarna werk hy haastige, berei voor om uit die spelonk uit te vlug. Hy gooi sy klere holderstebolder in sy koffer, asook die fles met die preparaat. Minute later staan hy weer by die deur. Hy maak dit op ‘n skrefie oop. Hy durf nie loop terwyl die vlieg nog daar sit nie. Hy loer. Die vlieg het geloop, of weggevlieg! Net ‘n nagverpleegstertjie sit met pasiëntkaarte en werk. Sy’s klaarblyklik ‘n troglodiet en hy kan die kans vat om uit te sluip.
Sol haal twee keer vinnig asem en dan glip hy deur die deur en stap sonder om links of regs te kyk voordeur toe. Die verpleegstertjie doen of sê niks nie. Buite in die maanlig draf hy kamp toe. Maar as hy regs kyk, sien hy ‘n groen gloed in die sekuriteitshokkie. Sowaar nog ’n vuurvlieg! Hy begin hardloop.
“Bzzz,” hoor hy, toe hy verby die hokkie snel.
“Daar’s jy nou, Meester!” balk Bileam. “Ek’s moeilik. Ek’s omgekrap.”
Sol klim sommer oor die hek van haastigheid. Gelukkig hoef hy nie tussen die hovaardige koetsperde deur te maneuvreer nie. Hulle’t die twee donkies, Bileam en Jakob, lankal eenkant toe gerangeer.
“Meester…”
“Stil! Bly net stil. Jou lewe is in gevaar met jou geskree en gesanik.”
“Maar Meester…”
“Hou op babbel en luister. Daar’s gedrogte in die spelonk en hulle kom jou nou doodslaan.”
“Wie, vir my? Nog nooit nie. Niemand kom my sommer doodslaan nie. Hulle is gouer hier uit as wat hulle ingekom het.”
Sol wil nog met hom redekawel, maar dan sien hy vuurvlieg nommer een glansend in die voordeur van die spelonk verskyn, gevolg deur die hottentotsgot.
“Krrr,” en “Bzzz” kom die twee raserige stemme op die aandlug aangedryf.
“Bly stil, bly net stil! Hier kom hulle nou,” waarsku Sol en skarrel weg met koffer en al en maak hom skaars teen die kampmuur langs die hek.
“Skrik vir niemand,” balk Bileam obsternaat. “Ek sien net ‘n vuurvlieg en ‘n hottentotsgot. Dis brekfis vir my.”
Sol is paniekbevange. Bileam spring op sy voorpote en skop met sy agterpote, soos hy oefen om sy aanvallers te ontmoet. Laasgenoemde twee is nou by die kraal. Sol haal skaars asem.
“Krrr,” sê die hottentotsgot. “Hier is die knuppel. Gaan moker hom.”
“Bzzz,” sê die vuurvlieg. “Hoekom altyd ek en dit alleen?”
“Krrr, gaan, of ek vreet jou op,” sê die hottentotsgot. “Krrr, hier’s die knuppel.”
“Knuppel, knuppel, hy wil my met ‘n knuppel probeer slaan. Hie-ha-ha-ha! Kom nader, vriend vuurvlieg.”
“Bzzz, nou goed. Maar dis altyd ék!”
Die vuurvlieg se spookagtige lig gloei meteens by die hek. Hy maak die hek met twee pote oop en kriewel binne. Hy’s te gefokus op Bileam, om Sol op te merk. Hy stap oor na Bileam toe. In sy gloed skyn Bileam se oë wit. Hy lig die knuppel omhoog om te slaan.
Dan, soos blits, vlieg Bileam om, gooi sy gewig op sy voorpote en skop met sy agterhoewe. Hy tref die vuurvlieg met ‘n dowwe plofgeluid in die middel van sy pens. Groen gloeiende skilfers bars van sy vlerke af los en sprei in ‘n duisend betowerende liggies in die nag.
“Bzzzzzz!” sug die vuurvlieg en val stadig agteroor op sy rug. ‘n Poot of twee kriewel nog en dan’s hy stil.
Sol sit versteen, maar Bileam val aan.
“Krrrr!” skree die hottentotsgot, terwyl hy op draderige bene terug spelonk toe skarrel, met Bileam warm op sy spoor.
Asof niks gebeur het nie, tree Jakob oor die flou vuurvlieg en stap ook by die hek uit. Sol volg koffer in die hand.
“Meester, nou kan ek seker iets eet?” vra Bileam.
“Eers huis toe, terug na die huis!”
“Sonder kos?”
“Jy kry ‘n sak lemoene by die huis.”
“Regtig, Meester?”
“Positief.”
“Laat ons gaan dan.”
Minute later bars die donkiewa verby vuurvlieg nommer twee in die sekuriteitshokkie en swenk dan links in die straat af op pad huis toe. Dis dan hoe dit is. Sol en Bileam vermy nou vir altyd die spelonk. Wilma laat nog gereeld haar gedrogverklikkerende preparaat per poskoets aflewer. Of die gedrogte ‘n les geleer het, weet nugter. Dan weer moet mens in gedagte hou dat troglodiete vreedsaam is en nie bakleierig nie. Hulle’s intimideerbaar. Maar ‘n sekere vuurvlieg en hottentotsgot raak bleek, telkens as ‘n troglodiet met ‘n donkiewa kom inboek by die spelonk.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
