Vyf jong Kapenaars en ´n verhooggroep uit die Verenigde Koninkryk het ´n multikulturele en multidissiplinêre teaterstuk op Robbeneiland geskep vir Liverpool se internasionale straatfees wat in Julie gehou word.
Kunstekaap, die Wes-Kaap se spilpunt vir uitvoerende kuns, gaan van 26 tot 29 Mei vier uitvoerings van hierdie eiesoortige produksie in die Kunstekaap-Arena aanbied voordat die stuk, Brouhaha D+10, na die Verenigde Koninkryk geneem word. Die kaartjies kos R20 en is te kry van Mike de Beer van Kunstekaap by Tel: (021) 410 9934 of e-pos mike@artscape.co.za
Die Suid-Afrikaanse kunstenaars kom uit verskillende gemeenskappe. Hulle is Si-ena Alexander van Manenberg, Vusumi Diyani van Nyanga, Willem Payler van Belhar, Christopher Samuels van Bonteheuwel en Bukeka Malungisa van Khayelitsha. Hulle vertrek op 15 Julie na die 17 dae-lange fees in Liverpool.
Die groep uit Liverpool, Polly Scott, Adeyinka Olushonde, Julia Samel, Arnie Boylan en Muhammad Mustapha Samari, het op 8 Mei in Suid-Afrika aangekom en het ses dae saam met die Suid-Arikaanse groep op Robbenneiland deurgebring om die nuwe gesamentlike toonspel te skep. Ná die uitvoerings by Kunstekaap gaan hulle verskeie gemeenskappe besoek voordat hulle op 7 Junie na die VK terugkeer.
Die stuk wat die groep op Robbeneiland saamgestel het, is ´n lewendige verhoogspel van musiek, dans, poësie en sang, met kulturele elemente van albei die lande.
Sticks Mdidimba, ontwikkelingsbestuurder by Kunstekaap, sê die Suid-Afrikaanse groep het al in April begin voorberei en inoefen. “Deur die hartlike samewerking bring die twee groepe teaterkuns van Europa en Afrika byeen in ´n lewenslustige aanbieding.
“Ons is bly oor die steun van Kunstekaap, Robbeneiland, die British Council en Brouhaha International,” sê Mdidimba. “Verlede jaar het ons ´n groep van ses jong Suid-Afrikaners na die internasionale fees gestuur. Twee van hulle is internasionale toneelgeleenthede aangebied maar ongelukkig kon hulle dit nie aanvaar nie.
“Hierdie kulturele uitruiling stel ons jongmense aan ander wêrelde en kulture bloot. Dit help hulle met artistieke, menslike, diplomatieke en besigheids-vaardighede,” sê Mdidimba.
Die internasionale straatfees is in 1990 begin om jongmense uit verskeie lande in ´n skouspel van kleur, geraas, opwinding en vermaak byeen te bring. Die fees wil die onderskeie lande se geskiedenis, tradisie en kultuur ontdek en vier. ´n Hooftema vir die 2004-fees is Kulturele diversiteit.
Elk van die 25 deelnemende lande verskaf straat- en verhoogaanbiedings. Gedurende die 17 dae bekyk die 200 deelnemers elke land by wyse van werksessies en kulturele doenighede. Die hoogtepunt aan die einde is ´n eenmalige aanbieding wat die beste van elke land saamsnoer in ´n kragtige vertoon van deelgenootskap en kultuurgenieting.
Met sy tema van diversiteit beoog vanjaar se fees om rasisme en vreedemlingehaat te oorkom deurdat deelnemenrs hulself as wêreldburgers met regte en verantwoordelikhede kan sien. Die meeste streke van die wêreld is ingesluit by die 25 deelnemende lande, naamlik Wes-, Oos- en Suid-Afrika, Latyns-Amerika, Europa en die Verre en Midde-Ooste.
