Die wenner van die derde Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater, die grootste in die geskiedenis vir die ontwikkeling van Afrikaanse teaterproduksies, is vanoggend (29 September) by die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom aangewys.
Die algehele wenner is die Universiteit van Stellenbosch wat die wenteks Slaghuis deur Willem Anker opgevoer het.
Toneelgangers het nog môre kans om dié wenstuk te sien.
Die ander kandidate was die universiteite van die Vrystaat en Tshwane Universiteit vir Tegnologie.
Die ander pryse is toegeken aan Cherie van der Merwe, beste akteur, vir haar rol in Dis ek, Anna, Marthinus Basson, beste regisseur en Willem Anker, die dramaturgprys.
Die beoordelaars was Pieter Fourie, Hennie van Greunen, Margot Luyt, Anthony Wilson en Jeanne Goosen.
Die Sanlam-prys is daarop gemik om die skryf van professionele dramatekste aan te moedig, opkomende teaterkunstenaars die geleentheid te bied om hul talente te ontwikkel en daardeur die algemene standaard van Afrikaanse teater te stimuleer. Drie van die vier dramatekste in vanjaar se finaal was die pennevrug van senior studente.
Die Universiteit Stellenbosch was in 2004 die eerste wenner van die Sanlam-prys en die Universiteit van die Vrystaat, verlede jaar se wenner.
Intussen het die beoordelingsproses begin om finaliste vir die Sanlam-prys vir 2007 te kies uit die oorspronklike Afrikaanse teatertekste wat vir oorweging aan dramadepartemente by SA universiteite ens. voorgelê is. Dié toekenning sal sy hoogtepunt bereik by die Absa KKNK van 31 Maart tot 7 April 2007 op Oudtshoorn.
