Studenteteater op sy beste by KKNK

Met die prestige en stewige geldpryse van die Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater (SPAT) vir 2008 as dryfveer, kan studenteteater op sy beste weer by die Absa KKNK verwag word. En die dramas is boonop splinternuut!

Die universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat sal dit uitspook om die grootste prys in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater vir die ontwikkeling van Afrikaanse teaterproduksies. Afgesien van pryse wat reeds toegeken is, is nog byna R200 000 nou op die spel.

Die drie finaliste wat nou met ‘n borgskap van R25 000 elk ingestudeer en volgende week opgevoer word, almal in die Sanlam-Griesselsaal, is:

Die Begrafnis (Woensdag 26 Maart 20:00 en Donderdag 27 Maart 16:30)

Produksie: Universiteit Vrystaat met Ilne Fourie, Misha Daniëls, Annalize Nortier, Carel Nel, Christopher Mey en Anel Coetzee; Teks: Phil Janse (skuilnaam); Regie: Nico Luwes.
Wat gemaak as Ant Vossie se man nie wou luister na haar vermanings nie? Sy’t hom hoeveel keer gewaarsku dat sy gewig hom gaan doodmaak. En nou’s dit Vierman se begrafnis en dis ‘n krisis want die man was groot! En die ys raak min en die deur is maar smal.

Mymering (Woensdag 26 Maart 12:30 en Donderdag 27 Maart 20:00)
Produksie: Universiteit Stellenbosch; Teks: Hans Oosthuizen; Regie: Johan Esterhuizen
Mymering, dié droomplaas vir vye, is deur ‘n dodelike wurmplaag en stadsontwikkeling tot ‘n kleinhoewe Mymeringverklein. Jakob Verdoorn soek antwoorde op sy vrae deur onder meer met die huishoudster te gesels. Petra vang hom onverhoeds met haar ontluikende seksualitiet. Een nag gebeur daar iets en niemand kan die verloop van omstandighede keer nie … Die ervare teaterganger word geboei deur gebeure verweef met die mitologie.

Sara ( Dinsdag 25 Maart 20:00 en Donderdag 27 Maart 12:30)
Produksie: Universiteit Stellenbosch; Teks: Richard Bertelsmann; Regie: Francois Toerien.
Die botsing tussen ‘n moderne wêreldbeskouing en ‘n letterlike uitleg van Die Bybel vind in ons tyd neerslag in die stryd tussen kreasioniste en evolusioniste. ‘n Bybelse verhaal wat teen hedendaagse waardes van menseregte en menswaardigheid indruis, is die verhaal van God wat Abraham beveel om sy seun Isak te offer. Sara belig die genoemde spanning teen die agtergrond van ‘n hedendaagse samelewing waar onder meer kindermoord skrikwekkende afmetings aanneem.

Nadat die algehele wenner en ook die beste akteur, regisseur en dramaturg aangewys is, sal die algehele wenproduksie weer op Vrydagaand, 28 Maart ervaar kan word.

Vir die wendramadepartement wag ‘n stewige R100 000 op voorwaarde dat die wenproduksie by twee ander kunstefeeste opgevoer word. Die individuele pryse is elkeen R20 000 werd en ‘n silwertoekenning van R10 000 vir naasbeste akteur is vir die eerste keer op die spel. Indien die beoordelaars erkenning wil gee aan ‘n produksie se dekor, tegniese versorging of ontwerp, sal hulle daarvoor ‘n sertifikaat van erkenning ontvang.

Stellenbosch het die toekenning in 2004 en 2006 gewen, terwyl die Vrystaters in 2005 en 2007 koning gekraai het.

Intussen kan dramaturge en voornemende toneelskrywers naderstaan vir 2009 se kompetisie.

Die finaliste word gekies op grond van oorspronklike Afrikaanse dramatekste wat aanvanklik deur die skrywers vir oorweging aan enige van die dramadepartemente by universiteite en technikons in Suid-Afrika voorgelê word en dan uiteindelik deur hulle vir beoordeling ingeskryf word. Die sluitingsdatum dáárvoor is 15 Augustus 2008. Die finaliste vir 2009 sal teen 5 Oktober 2008 aangekondig word en hul produksies instudeer vir finale beoordeling by Absa KKNK 2009.

(foto: Mercia Grootboom en Zanie Groenewald uit ‘n toneel in Mymering, een van die splinternuwe dramas van die Universiteit Stellenbosch wat aanstaande week by die Absa KKNK te sien sal wees. Dié drama is een van die drie finaliste om die Sanlamprys vir Afrikaanse Teater met totale prysgeld van R270 000. Die teks is deur Hans Oosthuizen van Oudtshoorn geskryf en die regisseur is Johan Esterhuizen.)

Lewer kommentaar

Leave a Reply