Die nuwe roman van die bekroonde skrywer Annelie Botes is ´n verhaal wat die kruis van outisme genadeloos oopvlek.
Sentraal in hierdie aangrypende gegewe staan twee onvergeetlike vrouekarakters: Ingrid Dorfling, ma van Alexander, wat die grense van wanhoop versit in haar verbete stryd om die kind wat hulle hele gesinlewe ontwrig “mens” te laat word. En in die proses omtrent alles wat kosbaar is, verloor.
Parallel met Ingrid staan Miriam – oppasma – wat met haar kinderlike godsvertroue en aardse wysheid die enigste is wat tot “Boetatjie” kan deurdring. Wat, as niks meer help nie, met hom onder die olienhoutboom gaan sit en sussende hallelujaliedere sing.
En dan is daar Alexander. Vreemdelingkind op sy eie “eiland”. Gillende, skoppende seuntjie wat kantelkop sit en luister wanneer die kerkklokke beier … Raaiselkind.
Dié aangrypende roman word uitgegee deur Tafelberg-Uitgewers.
Raaiselkind,
Bettie Blom,
8 Januarie 2008.
Ek is tans ‘n student wat by die Pukke swot. Ek het Raaiselkind die afgelope week gelees as een van my voorgeskrewe boeke.
Vandat ek die boek opgetel het kon ek dit nie neersit nie. Ek het na elke gebeurtenis gehardloop om vir my ma en vriend te vertel wat gebeur het. Ook het ek vir almal gesê om die boek te lees.
Raaiselkind het vir my persoonlik baie beteken in die sin van, dit het my oë oopgemaak oor die werklike swaarkry van mense waarvan ons nie bewus is nie, en dat ons party dae geirreteerd raak met klein dingetjies, hoeveel te meer moet so ‘n ouer nie voel nie.
As mens daaroor sit en dink, vra jy jouself die vraag af: “Hoekom laat God toe dat so iets met iemand gebeur?” Die swaarkry wat so ‘n gesin moet deurgaan, en dan nog die verwerping van die naastes aan hulle, gemeenskap, vriende ens.
Aan die einde van die boek is dit wraggies vir my ‘n raaisel, want dwarsdeur die boek was ek oortuig dat Ingrid hom nie doodgemaak het nie, maar op die einde sê sy dat sy die waarheid saam met die wind laat weg waai – dit het my effens omver geggooi, want nou is ek nie meer oortuig nie, nou wonder ek …
Ek dink dit is ‘n uitstekende boek en dat dit my oë regtigwaar oopgemaak het oor die swaarkry waarvan die mens nie rerig bewus is nie.
Baie dankie vir ‘n uitstekende en inspirerende roman!
Raaiselkind,
Marie-Anné Harvey,
8 Februarie 2008.
Ek het nou net hierdie boek klaargemaak, en dit was seker een van die mooiste Afrikaanse boeke wat ek nog ooit gelees het.
Die lyding waardeur hier Ma gegaan het, ter wille van haar kind het my keer op keer in trane gehad. Die manier waarop Mariam dink, en haar absulute kinderlike geloof in God en Sy engele, was verstommend. Nou verstaan ek ook ‘n bietjie meer wat ‘n outistiese kind is, en wat so ‘n kind se ouers moet deurgaan om hierdie kind groot te kry. Ek weet net nog nie, wie het hom dood gemaak nie. Ingrid of Gunter?
Raaiselkind,
Vanessa Schempers,
9 Maart 2008.
