Dis tyd dat Christene anders dink en praat oor seks

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Die gewilde radiopersoonlikheid en pastorale berader Ralph Barnard het pas ‘n aktuele boek oor seksualiteit geskryf: Dis tyd dat Christene anders dink en praat oor seks. Dié publikasie, sê die uitgewer, gaan beslis vurige debat uitlok. Barnard draai nie doekies om nie en huiwer ook nie om standpunt in te neem nie.

Die skrywer voel (soos vele ander) dat een van ons land se grootste probleme ‘n morele krisis is. Korrupsie, bedrog en selfsug is aan die orde van die dag. Daar word leiding gesoek by die kerke en die regering, maar die kerk worstel self met vrae oor die doodstraf, kerkeenheid, arbeids- en seksuele etiek.

En dat daar veral oor laasgenoemde nuut gedink sal moet word, is seker. Daarom bepleit Barnard ‘n oopheid vir nuwe denke oor seks en seksverwante sake. Hy bespreek ook sogenaamd “vreemde” vorme van seksualiteit, soos transvestisisme, transseksualiteit, homoseksualiteit en biseksualiteit.

Barnard verwys deurgaans na die Bybel en Bybelse uitsprake oor hierdie kwessies, maar ook na hoe die Bybel deur die eeue gebruik en misbruik is om opinies oor sensitiewe sake te vorm en selfs af te dwing. Barnard waak egter daarteen om voorskriftelik te wees. Hy gee bloot sy eie mening, maar op so ‘n stimulerende wyse dat hy die leser dwing om self oor hierdie kwessies te dink.

Dis tyd dat Christene anders dink en praat oor seks het sy ontstaan gehad in die program Sekslyn op RSG en die navorsing wat die skrywer daarvoor gedoen het.

Dis tyd dat Christene anders dink en praat oor seks word uitgegee deur Hugenote-uitgewers.

Lewer kommentaar

Leave a Reply