Sugar Daddies

Die sinopsis verwys na Sugar Daddies as “´n sinistere komedie met donker ondertone”. ´n Tendens wat Ayckbourn sedert die tagtigerjare voortsit in stukke soos Small Family Business (1987) met sy temas van afpersing en moord, seksuele begeerte in The Things We Do For Love (1997) en die emosionele ineenstorting van die hoofkarakter in Woman in Mind (1986).

Ayckbourn vermy etikette wat sy stukke tipeer as òf komedie óf klug. Sy verweer teenoor resensente en teaterkritici wat na sy stukke as komiese “crowd-pleasers” verwys, is ´n sterk narratief. Om dialoog te skryf sê hy, “is maklik as jy jou karakters ken, maar die akteurs het ook ruimte om te improviseer rondom ´n tema”. Sy karakters is fragmente van homself, van ander en karakters uit vroeë stukke. Volgens Peter Hall (Carmen, War of the Roses) reflekteer ´n goeie skrywer (soos Ayckbourn) die tye waarin ons leef, al het ons persepsies en hantering van byvoorbeeld die politiek en sosiale gedragskodes verander. Vra jy die akteurs wat van Ayckbourn as dramaturg die meeste tot hulle spreek, is die antwoord eenvormig, “die dramas se menslike aspekte, relevansie tot hulle tydvak en ´n onsentimentele slot.” Met humor, akkuraatheid en soms ook ´n tikkie wreedheid word aspekte van die Engelse middelklas-bestaan uitgebeeld.

Sugar Daddies vra vrae oor die vriendskapsverhouding tussen ouer welvarende mans en jong naïewe meisies. Dit is nie ´n nuwe onderwerp nie, dink maar aan Stanley Kubrick se 1962 film Lolita wat intussen vir ´n hedendaagse filmgehoor aangepas is, maar Sugar Daddies herinner ons weer aan die samelewing se houding jeens dié soort vriendskap. ´n Vriendskap wat die ouer man instaat stel om vir die meisie alles te koop wat haar hart begeer, inruil vir seksuele gunsies en/of geselskap. En ironies genoeg maak Sasha se sugar daddy sy opwagting in ´n kersvader mondering en voer dit haar terug na haar kinderjare, “I believed in father Christmas uncle Val!, until I was eleven! We would put out cookies for him, and the next morning there would be handprints, crumbs.” (Sommige lande het gevra vir ´n verbod uit die uitreiking van Lolita, omdat dit anti-sosiale gedrag soos pedofilisme, kan aanmoedig.

Sugar Daddies open waar Sasha vir Val na haar en suster Chloë se woonstel nooi na ´n motor hom omgestamp het. Hy bedank sy samaritaan deur ´n bos blomme te laat aflewer en die skaam lomp student wat saans skottelgoed by die Dorchester was en bedags ´n kookkursus bywoon, het min verweer teen dié ouwêreldse sjarme. Vir haar rol as Sasha is Pargeter genomineer vir die Manchester Evening News toekenning as beste aktrise. Dit is haar sesde Ayckbourn stuk (ook vir die Arnaud in die Damsels in Distress trilogy: GamePlan, Flatspin en RolePlay, waarvoor sy ´n hele rits toekennings gewen het.) Verlede jaar was sy te sien in die film Calendar Girls.

Pargeter skitter in Daddies, veral die toneel waar sy aangeklam tuiskom en haar suster in dieselfde toestand aantref dui op fyn waarnemingsvermoë en goeie tydsberekening (een van die essensiële elemente van komedie). Sasha se lang uiteensetting om die verskille tussen haar en suster Chloë te verduidelik (laasgenoemde ´n gekompliseerde, neurotiese karakter met ´n skurk vir ´n kêrel) asook haar transformasie in bedryf II is van die komiese hoogtepunte.

In dié bedryf met ´n dekorverandering wat die woonstel in ´n bordeel omskep, onthaal Sasha haar sugar daddies en ´n protégé uit Val se verlede, ene Charmaine (Eliza Hunt), ´n “binneshuisversierder” wat gehelp het met die woonstel se nuwe voorkoms. Almal drink te veel, die kos is ´n teleurstelling en die uitgesproke Charmaine bots met ´n onverbiddellike Val wat haar vra om te loop omdat sy beledigend optree teenoor haar gasvrou.

Om die atmosfeer te help lig, word Sasha gevra om iets voor te dra en teësinnig praat-sing sy die woorde van Nobody´s Heart belongs to Me deur Rodgers en Hart. Ayckbourn se meesterlike gebruik van die liriek as handeling én dialoog gee aan die stuk ´n eerlike onopgesmuktheid en jou simpatie lê uiteindelik nie by een karakter spesifiek nie. (Liriek wat ook enige van die karakters se dialoog kon wees.)

Nobody´s heart belongs to me, who cares?
Nobody writes his songs to me
No one belongs to me – That’s the least of my cares
I may be sad at times, and disinclined to play, but it’s not bad at times to go your own sweet way
Nobody´s arms belong to me, no arms feel strong to me
I admire the moon as a moon, just a moon
Nobody´s heart belongs to me today, who cares?
Nobody´s heart belongs to me. That´s bad
Love´s never sung her songs to me
I have never been had
I´ve had no trial in the game of man and maid
I´m like a violin that no one´s ever played
Words about love are Greek to me. Nice girls won´t speak to me
I despise the moon as a moon, it´s a prune. Nobody´s heart belongs to me today.

Sasha se ongekompliseerde geaardheid en opregte belangstelling as aanvanklike trekpleister is egter nie genoeg om dié verhouding te laat werk nie. Die vriendskap het versuur en hulle eerste fisieke kontak is in die vorm van afskeid wanneer hulle paaie uitmekaar gaan. “But let there be no frowns between us,” kom dit van Val, “Ashley make u frown and it´s bad for your complexion”.

Ayckbourn eksperimenteer graag met teaterstyle binne die grense van populêre smaak. Hoewel komedie op vinnige tempo steun, maak Ayckbourn ook van stiltes gebruik vir groter effek, soos in bedryf II wanneer Ashley en Val as oud kollegas (albei is eks polisiemanne) teen mekaar te staan kom. Ou intriges vlam op en hulle ontmoetings word emosionele kragmetings, veral wanneer Ashley vir Sasha waarsku teen Val se donker verlede en sogenaamde rangmisbruik.

Met meer as 300 televisie optredes en meer as 150 verhoogstukke (as akteur of regisseur in Brittanje en Suid-Afrika) is Rex Garner ´n legende in sy eie leeftyd. Dit is altyd ´n plesier om ´n veteraan soos Garner op die verhoog in aksie te sien. Hy is soos ´n goed ge-oliede masjien, die spel vloei, elke aspek van sy kuns is in harmonie met mekaar en sy stemgebruik het net die regte hoeveelheid intensiteit en drakrag. Hy kombineer die eienskappe van ´n galante heer (bv selfbeheersing, vleitaal en vrygewigheid) met die berekendheid van ´n krimineel om ´n driedimensionele karakter te skep.

Garner is in 1968 na Suid-Afrika waar hy hom vestig as Artistieke Direkteur en aansluit by die Pieter Toerien geselskap (Toerien het ´n teater na hom vernoem). Suid-Afrikaanse gehore sal hom onthou vir die TV-reekse The Settlers, Going Up en The Miser. Onlangs is hy ook vereer vir sy jarelange bydrae tot toneel in Suid-Afrika.

Terence Booth kan meer as veertig verhoogstukke agter sy naam skryf, waaronder Romeo & Juliet, Educating Rita en House & Garden. Vir televisie het hy opgetree in onder meer Enemies of the State en London Bridge II. Albei hoogs ervare akteurs wat aan hulle karakters ´n fyn nuansering besorg.

Met haar dinamiese verhoogpersoonlikheid, is Eliza Hunt se karakter meer as lewensgroot, en jy wens haar rol was nie is so Klein nie. Ten spyte daarvan dat Sarah Gobran inderhaas die rol van Chloë moes instudeer en die geselskap slegs ´n week se repetisies gehad het voor openingsaand, is Sugar Daddies suikersoet verleiding. Chloë se verontwaardiging wanneer Oom Val met sy artritis ´n uitnodiging van haar bedank om te sit “for fear of stiffening up”, is maar een van die kosbare (dubbelsinnige) oomblikke in die stuk. Gobran (die instaanspeler vir Anna Brecon) se spel en dialoog was soms té oordrewe en deklamerend.

Daddies spreek taboe onderwerpe aan soos die seksuele spel en morele dilemmas wat verhoudings tussen middeljarige mans en jong meisies teweeg bring, en die karakters (soos die gemeenskap daarbuite) deurgaans die wenkbrou laat lig. Chloë, soos buurman Ashley probeer alles in haar vermoë om Sasha en Val se (vriendskaps-) verhouding te beëindig, “..do you really think he wants nothing in return for all these expensive outfits from Bond Street?” Maar dit is ook in die woorde van ´n Engelse resensent, “.clearly a fable about the dangers of self-delusion.”

Met teater in Suid-Afrika in hoofsaak uitgelewer aan die kunstefeeste, was dit ´n bonus om weer in ´n teaterervaring soos dié te kon deel. ´n Groot dekorstel met toneelveranderinge, kostumering (wat ´n spesiale pluimpie verdien, veral Terence Booth se asmatiese karakter met sy klapmus en Sasha se studentedrag versus die uitspattige aanddrag en spykerhakke waarop sy kwalik kon balanseer), plekaanwysers in aandpak en strikdas, oorspronklike musiek spesiaal gekomponeer en uitgevoer vir die stuk, programme gedruk op glansblad en ´n bespreking na afloop van die stuk waaraan teatergangers kon deelneem.

Die Sugar Daddies toer vir 2004 sluit in Oxford Playhouse (27-31 Januarie), Malvern Festival Theatre (3-7 Februarie), Warwick Arts Centre (10-14 Februarie) en die Connaught Theatre (Worthing) (24-28 Februarie). Ayckbourn is versigtig optimisties oor ´n speelvak in Londen se West End, op sy terme en as ´n uitvloeisel van die huidige toer in samewerking met sy Stephen Joseph teater en die Yvonne Arnaud teater in Guildford, Surrey.

Daar is ook ´n moontlikheid dat Sugar Daddies later vanjaar vir amateur optredes beskikbaar gestel gaan word.

skrywer: Haydee Hollander


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply