A Touch of Madness

A Touch of Madness met David Butler in die rol van die kortverhaalskrywer, Herman Charles Bosman.

Die toneelstuk wat bestaan uit ´n reeks kort sketse, open met ´n besoek aan Jeppe Seuns Hoër in Johannesburg waar Bosman skoolgegaan het, gevolg deur verskillende fases van sy komplekse en dikwels melankoliese lewe soos die kortstondige paar maande as onderwyser in die Groot Marico. Hy keer terug na Johannesburg vir die Junie vakansie, maar die besoek eindig tragies wanneer hy sy stiefbroer met ´n jaggeweer doodskiet. Hy word ter dood veroordeel, maar dien uiteindelik slegs tronkstraf uit. Bosman se verblyf van ses jaar in Londen en Europa, die herontmoeting met sy drie (eks-) vroue en sy dood op 14 Oktober 1951 in die ouderdom van 46 deel onder die sketse, sowel as sy (Afrikaanse) gedigte want hy was een van die seldsame voorbeelde van ´n volslae tweetalige skrywer.

A Touch of Madness bied ´n nuwe perspektief op die vertaler van die Rubáyát of Omar Khayyám in Afrikaans sowel as die stories van Mafeking Road wat na hul verskyning in 1947, op BBC uitgesaai is. Vergeleke met Patrick Mynhardt se beminde en populêre uitbeelding van die Groot Marico karakter, Oom Schalk Lourens, fokus Madness op die donker fasette van die temperamentele skrywer se lewe en sy gevolgtrekking “I realised what I was, and am – an outcast.”

Die eenvoudige dog treffende décor herinner enersyds aan ´n Londense straattoneel uit die Dickens-era maar ook aan Chaplin se Easystreet – ´n dekoratiewe gietyster lamppaal en rooi bank wat Eloffstraat uitbeeld en daarnaas ´n lessenaar met tikmasjien, bottel wyn en glas. (In 1936 woon Bosman in die franse dorpie Ousted bokant ´n ou filmteater waar hy elke oggend die ‘film van die dag’ bywoon met slegs ´n jas bo-oor sy pajamas). Butler en die Vita bekroonde regisseur Nicky Rebelo (Louis Motors, Big Time) bied ´n ondersoekende en briljante kragtoer (onlangs ook die Bosman eenmanstuk Street-Woman.) Butler is sedert die vroeë tagtigs gesien in stukke soos die bekroonde Another Country en sowat 50 ander produksies wat wissel van inheemse werk tot Shakespeare. Hy behoort tot daardie rare groepie Suid-Afrikaanse akteurs wat nie hulle integriteit en liefde vir die verhoog prysgegee het vir meer kommersiële en lonende werk nie. In sy Bosman mondering, bestaande uit lospassende donkerblou potloodstreep pak, wit hemp en grys fedora lyk Butler soos die Bosman van die 1930s en ’40s.

Die verdere gebruik van slim beligting (veral die aangrypende en roerende slottoneel) om oorgange tussen emosies, Bosman se angst en ‘blou periode’ en selfs tydspronge aan te dui, versit nuwe grense (die ‘blou periode’ dui op sy dagga-rokery en ervarings van die verskillende ‘blues’ fases.) Soos met die boeke, is die elemente van humor en patos vervleg. En soos in die geval van Bosman, is Butler ook ewe tuis in Engels en Afrikaans. Om Karen Rutter aan te haal: “David Butler is simply superb in this one-hander, bringing a poignant yet dignified edge to the character he so carefully draws, and never once dropping his flat accent or rakish pose. It’s a brilliant performance and an intelligently structured work.”

Ek het A Touch of Madness ook in Bloemfontein in die intieme Sterrewagteater gesien, maar verdien ´n groter speelvak. Miskien kan uitgewers dit oorweeg om die dramateks tesame met die ander Bosman tekste, ´n projek wat teen 2005 met die honderdjarige herdenking van Bosman se geboorte voltooi sal wees, uit te gee. Bosman skryf terloops in The Afrikaans Stage (uitgegee onder die titel Verborge Skatte, 2001, Human & Rousseau) in die jare dertig: “.we cannot but hold to the view that the Afrikaans theatre has not yet found itself.” Bosman sou aangenaam verras gewees het.

skrywer: Haydee Hollander

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar