Die Makendast Teater Groep is terug met ´n nuwe werk Crossing (ook bekend as Drif) geskryf deur die alom bekende outeur, Reza de Wet. Floyed de Vaal is die produsent en artistiese direkteur van die groep wat hierdie bonatuurlike verhaal vertolk.
Twee susters, Hermien en Sussie (Vertolk deur Erica Wessels en Leigh Graves) wie drenkelinge uit ´n warrelende rivier vis vir ´n lewe en hulle swerwende siele tot ruste bring word meteens geteister deur die gees van ´n jong dame wie nie gereed is om tot ruste te kom nie. Sy dring aan op die hervertelling van die gebeurtenisse wat haar tragiese einde vooraf gegaan het. Ons word weer stap vir stap begelei deur die maalkolk van gebeurtenisse waar ons bekend gestel word aan die eksentriese Maestro (Vertolk deur die Fleur de Cap wenner Andre Weideman) en die verlore jong gedaante Ezmerelda (Vertolk deur die Vita toekenning wenner, Jenny Stead). Maestro ´n slinkse en oordominerende jong hipnotis het ´n onlosmakbare greep oor die verlore dogter van die nag. Ons word bewus van die bose kringlope van seksuele afhanklikheid en wedersydse emosionele afpersing wat soos ´n pes, beide verhoudings teister.
