Die teaterbedryf is een van die industrieë wat die hardste deur die Covid-19-pandemie getref is. Nie net is kunstenaars van broodnodige inkomste ontneem nie, maar hulle is ook ’n platform kwyt waar uiting aan kreatiwiteit gegee kan word. Volgens prof. Temple Hauptfleisch is teater een van die beste barometers om die stand van ’n samelewing te weerspieël. In die lig van dié uitdagings het die Suidoosterfees en NATi hande geneem en kan gehore hulle gereedmaak vir die opwindende NATi Teaterfees.

’n Verskeidenheid produksies word van 26 April tot 2 Mei by Artscape in Kaapstad op die planke gebring as deel van die Suidoosterfees se 2021-aanbod. Streng Covid-19-veiligheidsprotokolle is in plek en teatergangers kan produksies in ’n veilige omgewing geniet.

Ferdinand Bekker se Kamp, met Deon Lotz en Brendon Daniels, handel oor twee manne wat alleen in die wildernis uitspan. Dinge wat hulle nie kon voorsien nie, begin skielik skeefloop tydens die uitstappie. Gaerin Hauptfleisch is die regisseur.

In 2020 sou die komponis Ludwig von Beethoven 250 jaar oud gewees het. Nou bring die opwindende jong akteur, Ben Pienaar, vir Ludwig – Beet, soos sy vriende hom noem – skitterend na die verhoog. Die skrywer, Braam van der Vyver, het Beethoven na ’n Suid-Afrikaanse konteks verplaas. Beet is ’n aangrypende viering van die lewe van ’n Boheemse musikale genie wat in sy lewe geworstel het met die verlies van sy gehoor.

Brandbaar, wat oorspronklik as Womb of Fire opgevoer is, is nou in Afrikaans by die Suidoosterfees. Dié stuk verweef die verhale van twee vroue in die Kaapkolonie se beginjare: Grote Katrijn van Pulicat, wat as slaaf in die Kaap aangekom het, en die Khoekhoen-dienskneg Zara, wat aan die VOC se verkeerde kant beland. Die vertaling is deur Jason Jacobs behartig en skrywer van die oorspronklike stuk, Rehane Abrahams, speel saam met Lukhanyiso Skosana daarin.

Cintaine Schutte vertolk die rol van Mart in Marita van der Vyver se gewilde Die dinge van ’n kind. Die teks is deur Francois Toerien aangepas en Nicole Holm is verantwoordelik vir die regie. Van der Vyver se roman het lesers aangegryp met temas soos grootword, swangerskap en selfmoord, en speel af in Suid-Afrika van die 1970’s toe politieke leuens en die grensoorlog aan die orde van die dag was.

Sandra Prinsloo skitter in Spertyd, ’n eenvroustuk oor Elsa Joubert, een van Afrikaans se grootste skrywers. In dié stuk word daar openhartig en onsentimenteel besin oor die oudwordproses. Spertyd is gegrond op Joubert se gelyknamige outobiografie. Natalia de Rocha se eenvrouvertoning, Not my children, is ’n bestekopname deur ’n ma wat ná 34 jaar van kinders grootmaak ’n leë nes in die gesig staar. In haar vertolking probeer Da Rocha antwoorde kry op kwelvrae waarmee ouers hulleself besig hou. Party vrae is maklik om te antwoord, maar op ander bly die antwoorde ontwyk.

Volgens ’n oeroue bygeloof begin swane sing net voor hulle sterf. Buhle Ngaba se Swan Song ontgin dié mite in ’n multidissiplinêre eenvrouvertoning. Dit vertel die verhaal van ’n meisie met ’n gevleuelde bladbeen en haar stryd om in te pas by die wêreld.

In The Real Mrs Muhammad ondersoek die dramaturg Simone Heradien die komplekse verhouding tussen ’n praktiserende Moslem-Pakistani-man en sy Kaapse vrou wat in niks en niemand glo nie. Heradien speel ook in dié produksie wat deur Kurt Egelhof geregisseer is.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket en wissel tussen R70 en R120.

Lewer kommentaar

Leave a Reply