Die eens betwiste en Afrikaanse Taalmonument in die Paarl sal gons van die kulturele aktiwiteite wanneer die One World Festival op 6 en 7 Oktober daar plaasvind.

Die gewilde Emo Adams en Dr Victor and the Rasta Rebels is onder die kunstenaars wat gaan sorg dat die ding behoorlik ruk! Sammy Webber, Nur Abrahams, Jarrad Rickets, Salome, Heart & Soul, Loren Erasmus, Allou April’s Goema Movement, en Emile YX? & Mixed Mense gaan ook hul talente uitstal.

Die fees is ‘n viering van die Lente, hernuwing, diversiteit en ons gemeenskaplike menslikheid.

Die monument vorm deel van die Paarlse Arboretum, ‘n plaaslike skat, wat gasheer speel vir hierdie jaarlikse gebeurtenis.

Die Arboretum is geleë op die oostelike bank van die Bergrivier, is 2,8 km lank en beslaan ongeveer 31 hektaar. Dis in 6 “kontinente” verdeel en ‘n unieke kenmerk is dat bome en struike gegroepeer is volgens hul kontinente van oorsprong.

Vanjaar sal al die vermaak – anders as die vorige twee jaar van die fees – sentraal by die Taalmomument aangebied word.

Lovetta Bolters, uitvoerende lid van Camissa, het gesê sy is opgewonde oor die fees. “Ons het goeie musikante. Storievertelling, Origami, gesproke woord, kosstalletjies, ‘n biertuin, wynkroeë en lekker vermaak vir die kinders voltooi die feeservaring in ‘n idilliese omgewing.

“Ons sal ook op albei dae die uiteenlopende bydraes tot die ontstaan en groei van die Afrikaanse taal met gratis begeleide toere deur die Monument vier.

“Geskiedenis kan ‘n lekker ervaring wees! Ons sal dans, sing en feesvier!” het Bolters entoesiasties vertel.

Bykomende aktiwiteite sal ‘n interaksie met gen.maj. Jeremy Vearey insluit, wat grepe uit sy onlangs gepubliseerde boek, Jeremy vannie Elsies, sal lees en bespreek. Emile Jansen van Black Noise sal sy Afrikaaps Hip Hop-ding doen, en verskeie digters sal lesings lewer in sommige van die pragtige hoekies by die Monument.

Die fees sal van stapel gestuur word om 12:00 op Woensdag 26 September. Dan word ‘n loot van ‘n plant wat die verskriklike Hiroshima-atoombom in 1946 oorleef het, geplant by die Taalmonument.

Die One World Festival vind op Saterdag 6 en Sondag 7 Oktober plaas en deure open om 14:00. Kaartjies kos R250 vir ‘n naweekpas en R150 vir ‘n dagpas. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en by alle takke van Shoprite en Checkers.

Salome

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar