UJ Kunste loods nuwe Afrikaanse voorlesings

Vanaf 20 Mei 2013 bied UJ Kuns en Kultuur in samewerking met Kunstekaap feesVIER aan.


feesVIER is ‘n kort seisoen van lesings van kontemporêre Afrikaanse dramas wat sal plaasvind in die Con Cowan Teater op die Bunting Road Kampus van die Universitiet van Johannesburg (UJ).

Volgens UJ Akademiese verteenwoordiger op die Raad, Mnr. Dewald Joubert, spreek feesVIER die rol wat Afrikaans tot op hede by UJ gespeel het aan: “Afrikaans speel vandag nog ‘n belangriker rol in die daarstelling van ons kosmopolitaanse identiteit as ‘n internasionale universiteit van keuse, geanker in Afrika. Ons nooi almal hartlik uit om saam met ons te kom feesVIER in Afrikaans!”

“Die fokus van feesVIER is die teks,” verduidelik Feesregisseur Alby Michaels. “Die gestroopte manier van voorlees is bedoel as ‘n ontwaking van die verbeelding, waar akteur en gehoorlid saam werk om verskillende wêrelde te skep.” Michaels en drie ander gas regisseurs het elkeen ‘n teks ontvang, die teks sal eenkeer vooraf gelees word met hulle akteurs en daarna sien hulle mekaar weer vir die eerste keer saam met die gehoor vir die voorlesing.

Die program is as volg:

DRIF deur Reza de Wet, 20 Mei 2013, 19:30:
Drif is vir die eerste keer in 1994 by die Grahamstadse Kunstefees opgevoer. Hierdie stuk is later in Engels vertaal as Drift en is in 1996 deur Kruik opgevoer. Dié Gotiese storie van mislukte liefde en dwase passie wentel hoofsaklik om twee plattelandse susters, Hermien en die boggelrug Sussie, met donker geheime. Wanneer Maestro die geheimsinnige towenaar en sy pragtige assistent Ezmerelda aan hulle deur klop om ’n nag onder die susters se dak deur te bring, ontrafel meer as net dié donker geheime. Drif is in 1995 genomineer vir ’n Vita-toekenning as toneelstuk van die jaar en beste produksie van ’n nuwe stuk. Reza is ook genomineer as Suid-Afrikaanse dramaturg van die jaar.

feesVier
feesVier
STERVERLIG deur Anton Krueger: 21 Mei 2013, 19:30
In die Sterverlig Ouetehuis ontmoet ons vier inwoners. Elkeen van hulle het een of ander gebrekkigheid wat deel van oud word is, iets wat ingee, wat nie meer so lekker werk nie. Hulle bly al vir baie jare saam en weet als van mekaar se doen en late, maar hulle lewens verander as ‘n jong fotograaf in hul midde tree. Anton Robert Krueger was in Phalaborwa gebore. Hy is ‘n Suid-Afrikaanse dramaturg, digter en akademikus. Sy toneelstukke is opgevoer in Suid-Afrika, sowel as in Engeland, Wallis, Australië, die VSA, Monaco, Venezuela, Argentinië en Chili. Sterverlig is ‘n nuwe stuk.

BALLADE VIR ‘N BANGGAT deur Barry van Rensburg: 22 Mei 2013, 19:30
Tobie Cronje is vir die eerste keer in jare met ‘n eenmanvertoning op die verhoog. Ballade van ‘n Banggat is ‘n opvolg van die weghol sukses Annale van ‘n Windgat en beloof dieselfde intelligente humor en lewenswysheid. Banggat handel oor die menslike behoefte om homself te aanvaar soos wat hy is. Dit word gedoen met oor-tot-oor humor en lagbuie wat soos krale ingeryg is. Die Banggat vertrek op ‘n reis van selfontdekking en selfaanvaarding waarin hy die gehoor meesleur. Omdat dit handel oor die verskillende persoonlikhede van mense en lewenssituasies waarin ons ons almal daagliks bevind, kan elkeen identifiseer met die Banggat se stryd. Die gehoor is dan ook diep betrokke by uiteindelike ommekeer in die Banggat se lewe. Hierdie voel-goed produksie, uit die pen van Barry van Rensburg, gaan jou laat skaterlag terwyl dit hoop bring vir die Banggat en elkeen van ons.

PLOFSTOF deur Pieter Jacobs: 23 Mei 2013, 19:30
Dwelms, geweld, seks en ‘n liefdes driehoek. Dominic en Lizel is beste vriende en deel ‘n woonstel in ‘n gevaarlike buurt in Johannesburg. Wanneer al twee hul werk verloor en die opsigter hul uit die woonstel wil sit word hulle tot uiterste gedryf om die huur te probeer betaal. ‘n Nuwe loseerder, Kobus, sorg vir meer intrige en Dominic kan net nie van sy verlede ontslae raak nie. Pieter Jacobs is ‘n bekroonde dramaturg, akteur en kunste bestuurder. In 2003 het hy die KKNK Nagtegaal debuutprys vir Plofstof gewen. Hy is ook genomineer vir die internasionale Oscar Wilde-toekenning vir nuwe skryfwerk vir teater in 2008 vir sy spel Dalliances.

Kaartjie besprekings by Computicket of by UJ Kunste Sentrum gedurende werksure. Vir meer inligting kontak 011 559 3058.

Lewer kommentaar

Leave a Reply