Vak

Die kontroversiële Rian van Heerden is terug in 2008 met sy splinternuwe komiese eenmanvertoning Vak! Weereens steek hy sy kop so diep as moontlik in die leeu se bek in wanneer hy met sy eie “sillabus” vir Suid-Afrika vorendag kom.

Daar word gekyk na wat ons in die afgelope jaar geleer het sonder om dit met handskoentjies aan te pak. Onder die vak Wetenskap byvoorbeeld kyk Rian na lugvaart in Suid-Afrika sowel as die Eskom sirkus.

Onder Biologie word die padda in detail behandel en gekyk na Zuma, die galblaas en selfs die Springbok!

Die vak Afrikaans word in detail behandel met spesiale verwysing na Steve Hofmeyr, Jurie Els, supersterre, swak sangers en die fluitende predikantsvrou!

Ons maak ook ‘n draai by Aardrykskunde en bekyk emigrasie van ‘n ander hoek af voordat die trein aanbeweeg na die vak Lewensorïentering. Hier word enige-iets van gays tot weerwolwe behandel met selfs ‘n onderhoud met ‘n tannie wat gereeld deur aliens ontvoer word!

Natuurlik eindig Rian met wiskunde wanneer hy uiteindelik twee en twee bymekaar sit en tot ‘n somtotaal kom.

Vak is Afrikaanse stand-up komedie op sy beste!

Nie vir sensitiewes nie.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar