Jan en die Boontjierank

Spektrum en Stercus produksies, twee gevestigde produksiehuise, span weer saam om die sprokie, Jan en die Boontjierank, op die planke te bring.

Dié klassieke sprokie, is tot ‘n vermaaklike toneelstuk verwerk deur Gaerin Hauptfleisch, wie ook die regie behartig en verantwoordelik is as Faktotum Fourie, vir alles van die klankeffekte tot die stelverskuiwing.

Soos in die die sprokie verkoop Jan hul koei vir vyf wonderbone, tot ontsteltenis van sy ma wat gehoop het op ‘n geldjie om hul deur die swaar wintermaande te dra. Ma gooi die bone weg wat onmiddelik groei tot ‘n wonderboontjierank, wat die nuuskierige Jan natuurlik nie kan weerstaan nie. Jan ontdek ‘n ander wêreld op die ander punt van die boontjierank. ‘n Wêreld met reuse, feëtjies, goud eierlêende eende en harpe wat self speel.

Gehore sal self moet kom kyk of hy sy en sy ma se omstandighede kan verander, en hoe die geheimsinnige feë in die prentjie pas.

Regisseur Gaerin Hauptfleisch is al bekend vir sy prettige “panto-mini’s” soos Aswoestertjie en Sneeuwatjie? Die ander lede van die gedugte professionele akteurspan is Esther von Waltsleben, Stephanie Hough en Jan-Hendrik Opperman wat al vele kindertoneelstukke op hulle gesamentlike kerfstok het, nie net by kunstefeeste soos KKNK nie, maar ook by skole oor die hele Wes-Kaap.

Jan-Hendrik Opperman
Jan-Hendrik Opperman
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar