Roekeloos
9 Mei
Vettie Vettie is ‘n toneelstuk wat gekskeer met vroue se stryd om ontslae te raak van oortollige kilogramme.
Met die winter om die draai en met die vooruitsig van badkamerskale wat gaan kreun onder die gevolge van winter versnaperinge, bied Kosie Smit en Giep van Zyl ligte vermaak en ‘n lekker lag komedie aan vanaf begin Mei 2014
Vicky (gespeel deur Hanna Grobler) is ‘n suksesvolle eienares van ‘n boekwinkel in Hatfield, Pretoria, enkellopend en ooglopend vet. Wanneer sy haar droomman, Tom Delport (André Lotter), ontmoet, besluit sy sy gaan nou eens en vir altyd van haar vetrolletjies ontslae raak en haar prins vang.
Dis egter nie so maklik om gewig te verloor nie, veral nie as een van jou huismaats ‘n gourmet kok is en jou ander huismaat jou gereeld herinner aan al jou gefaalde diëte nie.
Henri (Tobie Cronjé) ken Vicky al lank genoeg om te weet dat haar maerword-voornemens nooit lank hou nie, en hy put “groot” genot daaruit om haar siel uit te trek. Hy is beslis nie baie taktvol nie en glo ook nie aan eufemismes nie, hy sê wat hy dink.
Gert (Luan Jacobs) is ‘n gourmet-kok wat nooit net doodgewone rys, vleis en aartappels kan kook nie. Hy werk deur die dag vir Vicky in die boekwinkel en het ‘n sagte plekkie vir haar.
Gaan die arme Vicky daarin slaag om die man van haar drome se hart te wen?
Die regie word behartig word nimlike akteur en regisseur André Odendaal.
Vettie Vettie is deur Johan Bernard vertaal en deur Pierre van Pletzen verwerk van Charles Laurence se trefferkomedie My Fat Friend.
Vettie Vettie gaan landswyd te sien wees. Die eerste speelvak is by die Pieter Toerien Montecasino teater vanaf 7 Mei 2014 tot 1 Junie 2014. Besprekings by Computicket.
TOERPROGRAM:
7 Mei – 1 Junie 2014 – Pieter Toerien Montecasino Teater
4 Junie – 21 Junie – Pieter Toerien Theatre on the Bay
Lewer kommentaar